Hoërskool Bonnievale was een van die begunstigdes wat ’n skenking van die Mooiuitsig-groep ontvang het. Van links is Wilhelm de Wet (voorsitter van die skoolbeheerliggaam), Stefan Prins (skoolhoof), Olive Jonker (Mooiuitsig-groep) en Janie Wentzel (HSB se finansiële hoof).


Die opleiding en bemagtiging van die jeug druk diep op die hart van die Mooiuitsig-groep.

Daarom bewillig hulle jaarliks geld om aan projekte en plaaslike skole in die Bonnievale-omgewing te skenk. Dit sluit die uitmuntende Jakes Gerwel Tegniese Skool en die Hoërskool Bonnievale in.

“Mooiuitsig – net soos ander landbouondernemings in die distrik – is afhanklik van hoëgehalte- geletterde werknemers, en daarom belê ons graag dáár waar ons ’n verskil kan maak. Dit is wonderlik om uitsonderlike instansies te hê met die vaardigheid en kennis om ons plaaslike gemeenskap op te hef, op te lei en ook toekomsgerigte loopbaanopsies aan ons jeug te bied,” sê Olive Jonker, voorsitter van die gevestigde Mooiuitsig-groep.

Haar seuns, Nicolaas en Michiel, is die vyfde geslag wat die bestuur van die suksesvolle familieonderneming oorgeneem het. Volgens Jonker word hul skenking onder meer aangewend om uitstaande skoolfonds en leerkragte se salarisse aan te vul, vir algemene instandhouding te betaal en om nuwe projekte uit te rol.

“Die ondersteuning van projekte en opleidingsinstansies wat ons jeug se potensiaal tot die uiterste ontgin, kan ’n mens as’t ware nie as terugploeg sien nie. Myns insiens is dit eerder ’n vorentoekyk- pro-aktiewe bydrae tot ’n sterker Suid-Afrika. Soos oudpresident Nelson Mandela het gesê: ‘Kinders is die rots waarop ons toekoms gebou word.’ Daarom is dit elkeen van ons se plig om, op welke manier ook al, ’n verskil in die lewe van ’n kind te maak,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article