Die Montagu-boekefees word eersdaags weer aangebied.

Die geskiedkundige KWV-gebou, met die pragtige gerestoureerde fasades in Lang- en Kohlerstraat, gaan van 26 tot 28 Augustus gevul wees met boeke en boekliefhebbers.

Die program vir sprekers en gesprekke sluit bekende en minder bekende skrywers en ander skeppende kunstenaars in en dr. Diana Ferrus, ’n gevierde skrywer, digter en aktivis, sal die feesvieringe Vrydagoggend 26 Augustus begin deur ’n ontspanne poësiewerksessie aan te bied om nuwe digters aan te moedig om te skryf oor wie in hul koppe en harte leef.

Die amptelike opening van die fees die Vrydagaand sal die vorm aanneem van ’n paneelbespreking oor die verlede en huidige rolle van kunstenaars in die Suid-Afrikaanse konteks. Dr. Willie Bester, ’n gebore Montaguer en internasionaal bekende beeldhouer en skilder; Kirby van der Merwe, ’n skrywer en visuele kunstenaar; en Montagu se eie Jannie Hanepoot, musikant extraordinaire, sal hulle by dr. Ferrus op die paneel aansluit.

Die uur lange sprekersessies die Saterdag sal ’n praatjie oor die plesier en slaggate van literêre vertaling deur die gevierde romanskrywer en vertaler Michiel Heyns en die Montagu-bekendstelling van die plaaslike rotsklim-ghoeroe Tony Lourens se gids tot sport en trad-klim in Montagu insluit.

Francine Beaton, self-gepubliseerde romanskrywer met 17 boeke op haar naam met nog agt wat wag om gepubliseer te word, sal besoekers inlig oor skryfwerk oor die liefde.

Die kookboekuitgewer Annake Müller kom praat oor die uitdagings wat onafhanklike uitgewers moet oorkom, en Hester van der Walt van McGregor gaan oor haar meel-en-sout-en-water-en-gis-boek, Hester se Brood, praat. Vir kosentoesiaste is genot en geluk in hierdie aanbiedings gewaarborg.

Kirby van der Merwe en Audrey Jantjies van Swellendam gaan mekaar ondervra en ondersteun oor “Die Naelstring van die Verlede” oor hoe die karakters in hul onderskeie boeke deur die verlede verbind word.

Penguin Random House-uitgewers sal twee van die skrywers in hul stal vertoon. Erla-Marie Diedericks gaan gesels oor haar volbloed- sielkundige riller Die Bewonderaar, wat beskryf is as ’n “gestroopte” en “groteske” narratief oor ’n sadistiese bekruiper – senutergende goed!

Ilse Verster, debuutskrywer van So lyk ’n vrou, kom gesels oor hierdie ontstellende en insiggewende boek en die noodsaak dat mishandelde vroue die swye moet verbreek om te kan floreer ná ’n verhouding met ’n narsis.

Die finale program, kaartjiebespreking en besonderhede is van Maandag (1 Augustus) af op die Boekefees se Facebook-blad beskikbaar.. Besoek https://www.facebook.com/MontaguBoekefeesBookFestival/

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article