As iemand in die water in die moeilikheid is, moenie inspring nie, want jy stel jou eie lewe in gevaar. Dink aan ’n plan!


Ná die onlangse verdrinking van twee graad 1-leerders in die openbare swembad in Moorreesburg het Gazette by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se plaaslike verteenwoordiger, Petro Meyer, om raad gaan aanklop.

Meyer sê met die dae wat vinnig besig is om warm te raak en die Desember-vakansie wat nie meer so ver is nie, moet mense ekstra versigtig naby water wees.

“Almal moet bewus wees dat water – in ’n dam, swembad, riviere en die see – baie gevaarlik is. Wees versigtig wanneer jy naby water is, Die belangrikste reël is om nooit alleen te gaan swem nie. Neem asseblief die volgende veiligheidswenke ernstig op en maak seker dat jy dit verstaan:”

1. Maak seker dat ’n grootmens teenwoordig is wanneer jy naby die water kom;

2. Swembaddens moet toegekamp wees of dit moet met ’n seil bedek word. Moet asseblief nie gaan swem as niemand daar is om toesig te hou nie. Speelgoed wat in die swembad dryf, moet verwyder word, want kinders kan probeer om dit uit te haal en kan dan inval;

3. Wanneer julle in die see swem, swem tussen die vlae en net waar menseredders aan diens is. Die vlae is daar om die veiligste plek aan te dui waar jy kan swem.

4. As iemand in die water in die moeilikheid beland, moenie net inspring nie, want jy stel jou eie lewe in gevaar. Dink aan ’n plan – wat kan ek doen om my maat te help en myself veilig te hou? Onthou, dit is normaal om te wil inspring, maar dan kan jy én jou maat verdrink. Jy moet ’n grootmens roep en iets wat dryf, soos ’n reddingsboei of leë plastiekbottel met ’n prop op na jou maat gooi.

5. Leer die noodnommer 112 uit jou kop en leer hoe om kardiopulmonêre resussitasie (KPR) te doen.. Enige instelling sowel as skole en kleuterskole kan Meyer kontak by 082 537 3909 of petro@searescue.org.za vir enige navrae of vir ’n gratis waterveiligheid-aanbieding.

“Wees asseblief versigtig in en naby water – ’n ongeluk gebeur baie vinnig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article