Almal van ons het al tong-in-die-kies-verkiesingstories beleef.
Toe ek die eerste keer kon stem, was daar verskeie stories in my agterkop –woordspelings hoe politici mekaar briljant kon insê; verkiesingsvergaderings wat eers eindig wanneer mans mekaar met stoele bydam; ’n koerantberig oor grootskaalse verliese toe die destydse S.A.P. (Suid-Afrikaanse Party) net een Vrystaatse setel kon behou. Die opskrif het uitbasuin: “Sappe sit die pot mis, hele Vrystaat Nat” (Nasionale Party).
Toe ek my eerste kruisie daardie Donderdagoggend getrek het en uitstap, kom ’n medestudent ingestrompel en vra: “Is dit Dinsdag of Dansdag?”
Op ons studenteplaneet het ’n manstudent ’n politikus se middagete-toespraak in sy koshuis ge-tape – met ander woorde, met ’n bandopnemer en kassetband (daardie tapes wat met ’n hoekige potlood opgerol kon word as die band iewers vashaak) opgeneem.
Toe die politikus hom later oor sekere uitlatings verontskuldig, was die studente-tape sy grootste verleentheid. Hierdie manstudent is deesdae redakteur van ’n vooraanstaande Suid-Afrikaanse koerant.
Soms begin die begeerte om jou eie regering te kies, by ’n koppie tee.
Eendag, lank gelede, in Boston, Massachusetts (VSA), het mense se begeerte om seggenskap in hul eie regering te kry, só oorgekook dat hulle oproerig geraak en honderde kiste tee in die see gegooi het.
Hierdie onderdane in ’n Britse kolonie se desperate optrede is voorafgegaan deur vrugtelose pogings om teen onrealistiese belastingheffings te betoog.
Boston se werkersklas het kort voor Kersfees 1773 besluit genoeg is genoeg. Altesaam 100 mans het Britse vragskepe in die Bostonhawe bestorm en – glo dit of nie – tee oorboord gegooi.
As ’n mens jare lank onder outokratiese onderdrukking ly waar verkiesings nie eens ter sprake is nie, dan raak “tee-stortings” geloofwaardig – veral as 342 skeepshouers vol tee skade van R31 410 084 ($1,7 miljoen) beloop.
Boston se mense is swaar gestraf. Brittanje het reageer deur hierdie onderdane nog kwaaier met strenger wette en meer Britse soldate te onderdruk. ’n Volskaalse rewolusie het uitgebreek en baie bloed het gevloei voordat selfregering jare later realiseer het. Tog was hierdie 100 manne se onwettige gestoei van drie ure lank daardie nag die begin van demokratiese leierskap; dit was die begin van Amerika se voorheen prominente Boston Tea Party.
Op eie bodem kry elkeen van ons hierdie week geleentheid om amptelik te gaan stem vir die party wat ons moet verteenwoordig. Al is die uitslag dalk nie dit wat ons wou hê nie, het elkeen wat sy stem uitgebring het, sy plig gedoen om sy sê te sê – al is dit met die trek van ’n kruisie.
In Suid-Afrika het ook baie bloed gevloei en baie onreg is gepleeg in die stryd om demokrasie te vestig.
Laat ons nie Woensdag hierdie voorreg as vanselfsprekend aanvaar nie. Laat ons nie net tuis sit en spreekwoordelike tee drink sonder om ons stem op verantwoordelike wyse uit te bring nie.
Dis ons reg, dis ons voorreg en ons plig.





