Polisiebeamptes van Moorreesburg het twee mense verlede Saterdag (23 Maart) in hegtenis geneem nadat inligting oor onwettige handel in drank ontvang is.
Twee mans van onderskeidelik 38 en 41 jaar oud is op Koringberg en in Moorreesburg in verband met die onwettige handel in hegtenis geneem.
Volgens AO Nicolette Visagie, ’n woordvoerder van die Moorreesburg-polisie, het die beamptes op 81 bottels bier, 13 F soetwyn en geld by ’n perseel in Rietstraat, Koringberg, beslag gelê terwyl byna 50 bottels en blikkies bier in Hoofstraat in Moorreesburg uit ’n perseel verwyder is.
Die nuwe hofdatum vir die verdagtes is volgens die polisie in hierdie stadium nog nie bekend nie.
In nog ’n voorval is verskeie verdagtes onlangs vir die besit van gevaarlike wapens in hegtenis geneem.
Volgens Visagie is klagtes van aanranding, ernstige aanranding en huishoudelike geweld in die omgewing aan die toeneem.
“Daar is ook ’n toename in huisbrake. Mense wat gesteelde goedere of eiendom koop, sal ook met die gereg te doen kry,” waarsku sy.
Die polisie doen ’n beroep op die plaaslike gemeenskap om misdadige aktiwiteite aan te meld in ’n poging om misdaad hok te slaan.





