Misdadigers is sedert die begin van Junie vir verskeie diefstal-voorvalle in Moorreesburg in hegtenis geneem.
’n Rower het Saterdag 3 Junie ’n winkel in Sentrumweg binnegestap en die aanklaer se lewe met ’n mes bedreig. Die aanklaer se selfoon, sigarette en geld is uit die winkel gesteel. Die verdagte in die gewapende rooftog is later die dag ná verdere ondersoek deur die plaaslike polisie in hegtenis geneem.
In nóg ’n voorval is ’n slagoffer op pad na dieselfde winkel deur ’n rower voorgekeer, wat hom van sy selfoon beroof het. Die verdagte is later die dag deur die plaaslike polisie opgespoor en in hegtenis geneem. Die gesteelde selfoon is ook opgespoor. Die verdagtes het albei die afgelope Woensdag in die landdroshof op Moorreesburg verskyn.
Twee verdagtes is ook verlede naweek in hegtenis geneem vir poging tot diefstal van infrastruktuur.
Lede van die Moorreesburg-polisie het ’n verdagte man die afgelope Sondag teen die N7-snelweg gedurende roetine-patrollie gesien en besluit om van nader ondersoek in te stel. Die man het reg onder ’n paal waarteen kameras geïnstalleer is, gelê. By verdere inspeksie is nog ’n verdagte man onder op die paal opgemerk, besig om aan ’n kompartement waarbinne die kameras gestoor word, te peuter. Die verdagtes, onderskeidelik 19 en 34 jaar oud, is op aanklag van poging tot diefstal van openbare infrastruktuur in hegtenis geneem.
Die aangeklaagdes het Woensdag (14 Junie) in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.
Lt.kol Bertus Conradie, die stasiebevelvoerder, het lede geloof vir hul goeie polisiewerk in ’n poging om misdadigers agter tralies te kry.

