’n 19-jarige verdagte van Piketberg het gister (2 Desember) in die plaaslike landdroshof verskyn nadat hy homself die afgelope Saterdagaand teen sy inhegtenisneming verset en ’n polisielid aangerand het, het kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê. Geen verdere besonderhede rakende die rede vir sy aanvanklike inhegtenisneming is in hierdie stadium bekend nie.
In nog ’n voorval in Piketberg is ’n 71-jarige man die afgelope Vrydagaand deur ’n 56-jarige man met ’n gholfstok aangerand en met die dood gedreig. Die verdagte sal na verwagting op 14 Januarie 2025 in die plaaslike landdroshof van Piketberg verskyn.
Die 32-jarige Marelize Gabriel van Moorreesburg is Saterdagaand (30 November) in die Swartland-hospitaal oorlede nadat sy Saterdagoggend op die N7-snelweg deur ’n vragmotor getref is.
’n 29-jarige vrou is Sondagoggend (1 Desember) omstreeks 04:30 met vermoedelik traangas gespuit nadat sy weens ’n geraas buite haar huis in Wesbank, Malmesbury, ondersoek gaan in stel het. Geen verdere besonderhede kon deur die plaaslike polisie verskaf word nie. Geen strafregtelike klagte is aangemeld nie.


