’n 31-jarige verdagte het verlede Maandag (21 Oktober) op ’n aanklag van moord in die Malmesbury-landdroshof verskyn. Dit volg nadat die 32-jarige Simnikiwe Reshe omstreeks 03:10 op 21 Oktober die Sondagoggend noodlottig met ’n mes in Bikostraat, Illingelethu gesteek is. Die slagoffer is met die plaaslike polisie se aankoms reeds deur nooddienspersoneel op die toneel dood verklaar. Volgens die Malmesbury-polisie se woordvoerder, Henry du Randt, het ’n rusie kort voor die voorval tussen die betrokkenes plaasgevind.
’n Skietvoorval het verlede Sondag (21 Oktober) in Alftraat, Wesbank, plaasgevind waartydens een van die betrokkenes ’n skietwond opgedoen het. Die 18-jarige Divandre Stevens is met die polisie se aankoms reeds na die Swartland-hospitaal in Malmesbury geneem. Stevens is kort daarna na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Volgens Du Randt is drie minderjarige verdagtes tussen die ouderdomme van 16 en 17 verlede week op ’n aanklag van poging tot moord deur die plaaslike polisie in hegtenis geneem.Die verdagtes is kort ná hul verskyning in die plaaslike landdroshof in Malmesbury terug in hul ouers se sorg geplaas.
’n Ondersoek deur die plaaslike polisie van Moorreesburg is tans onderweg nadat ’n gewapende rooftog op 18 Oktober plaasgevind het.Die 33-jarige is omstreeks 16:00 teen die N7-snelweg naby Ruststasie beroof.Die klaer het volgens die polisie se plaaslike woordvoerder met ’n R20 op aanbod probeer ryloop. Hy is kort daarna deur twee onbekende mans in ’n ligte blou CityGolf opgelaai. Die bestuurder van die voertuig het by die Ruststasie-afdraai gestop terwyl die passasier uitgeklim en die klaer met ’n vuurwapen gedreig het.Die bestuurder het intussen langs die klaer op die agtersitplek ingeskuif en sy beursie en sy selfoon geneem. Die klaer is daarna versoek om uit die voertuig te klim en met pepersproei gespruit. Die verdagtes het die toneel af gevlug en in die rigting van Malmesbury gery.’n Saak van ’n gewapende rooftog word ondersoek. Die vermeende verdagtes is tans steeds soek.



