’n Messtekery het vroeg Sondagoggend (13 Oktober) in Moorreesburg plaasgevind nadat ’n stryery tussen ’n 31-jarige en ’n 36-jarige plaasgevind het. Die voorval het omstreeks 02:55 gebeur. Die 36-jarige vermeende messteker het verlede Dinsdag (15 Oktober) op ’n aanklag van moord in die plaaslike landdroshof verskyn.
’n 18-jarige man sterk tans in Kaapstad in ’n hospitaal aan nadat hy op 13 Oktober om 00:30 twee keer in die rug in Saamstaan in Malmesbury geskiet is. Die skieter, wat van poging tot moord beskuldig word, is steeds soek.
’n 20-jarige verdagte van Malmesbury het verlede Saterdagmiddag (12 Oktober) ’n veiligheidshek van ’n winkel in Begoniastraat in Malmesbury onwettig oopgedwing. Die verdagte het die 30-jarige Etiopiese burger glo met ’n mes gedreig en hom gewurg voordat hy met R200 en R1 139 se sigarette gevlug het. Die vermeende rower is deur die plaaslike polisie aangekeer en het intussen in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
’n Plaaslike verdagte het tussen 21:45 en 22:15 Maandagaand (14 Oktober) ’n petrolbom op ’n 57-jarige vrou se huis se dak in Pappagaaistraat in Wesbank, Malmesbury, gegooi. Die verdagte het kort daarna in die Malmesbury-landdroshof op aanklagte van poging tot moord verskyn.


