Die plaaslike inwoners van Hooikraal op Moorreesburg het die afgelope tydperk hul misnoeë uitgespreek soos voortslepende inbrake en gewelddadige aanvalle reeds vir ’n geruime tyd in hul woonbuurt plaasvind.

Gazette het verlede week berig oor ’n man (30) wat volgens ooggetuies verlede Saterdagaand op pad na sy huis deur ’n groep jeugdiges aangeval, beroof en vir dood agtergelaat is (“Mense keelvol vir jeugmisdadigers”, 23 Mei 2023).

Volgens die slagoffer se ma, ook ’n inwoner van die woonbuurt, is dié aanval een van vele wat die afgelope tyd plaasgevind het.

Haar seun is met ’n baksteen teen die kop geslaan, van sy selfoon en beursie beroof en vir dood gelaat, was dit nie vir inwoners wat hom te hulp gesnel het nadat hulle sy noodkrete gehoor het nie. Die aanvallers het te voet gevlug en is steeds soek.

Die slagoffer is op die toneel gestabiliseer en kort daarna per ambulans na Swartland-hospitaal geneem waar hy verdere mediese behandeling ontvang het.

Volgens inwoners ruk die situasie handuit soos daar keer op keer by huise ingebreek word en inwoners beroof en aangeval word.

Die inwoners is ook daarvan oortuig dat hulle weet wie die skuldiges is, maar dat niks aan die situasie gedoen word nie, omdat die vermeende misdadigers glo minderjarig is.

Willem Arendse, hoofkomiteelid van die plaaslike buurtwag, het bevestig dat verskeie inwoners al beroof of aangeval is. Volgens hom vind inbrake ook baie meer plaas as gevolg van talle inwoners wie se wonings nog nie klaar gebou is nie. Hy meen items is van buite af sigbaar wat inwoners kwesbaar laat. ’n Vergadering het op 3 Mei plaasgevind waar die misdaadsituasie in Hooikraal breedvoerig met die plaaslike polisie, owerhede en wetstoepassers bespreek is, voeg Arendse by. Hy het bevestig dat polisiëring sedertdien meer sigbaar as voorheen is. Arendse sê dat daar intussen aandag gegee word aan die beveiliging van wonings om inbrake te probeer verhoed.

’n Woordvoerder van die Moorreesburg-polisiekantoor, AO Nicolette Visagie, het intussen bevestig dat ’n klagte van poging tot moord by die plaaslike polisiekantoor aangemeld is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article