Micah Africa (14), ’n o.16-leerder van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS), het dit weer gedoen deur nie net een nie, maar twee Suid-Afrikaanse rekords te verbeter.

Micah, ’n oud-Laerskool Swartland-leerder van Malmesbury, het die afgelope Vrydag die 100-m binne 10.73 sekondes by die SA Skole-atletiekkampioenskap in Tshwane kafgedraf.

Hy het reeds op laerskoolvlak verskeie rekords laat spat en doen so voort op die ouderdom van 14.

Micah, wat Boland Atletiek verteenwoordig, het die halfeindronde in 10.83 sekondes gehardloop. Hy het volgens Atletiek Suid-Afrika ook sy eie persoonlike tyd verbeter en met goud weggestap.

Volgens Boland Atletiek het hy daarin geslaag om op die laaste dag van die byeenkoms (23 Maart) by die Pilditch-stadion nog ’n Suid-Afrikaanse rekord te verbeter en ’n goue medalje met sy deelname aan die 300-m-hekkies te wen deur die item onder 36.76s te hardloop. Familievriend Riaan Smith van Malmesbury beskou dit as ’n groot voorreg vir die Swartland om een van hul eie inwoners se prestasies te vier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article