Die SA Terroir-wyntoekennings word vanjaar die 18de keer aangebied en is nou reeds ’n toonaangewende instelling op die wynkalender – wat die geleentheid vir kundige wynmakers en wingerdboukundiges bied om die vele uitsoek-grond- en klimaatsterreine in die Kaapse wynland ten volle te benut om uitsonderlike wyne te skep.
Christo Pienaar, die voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), sê: “Ons wyngebiede is ’n uitmuntende voorbeeld van Suid-Afrika se landbouvaardigheid, wat internasionaal gerespekteer word. Die topgehalte wyndruiwe van ’n wye reeks terreine (terroirs) wat van ’n groot verskeidenheid kultivars verbou word, lewer wyne wat puik by hierdie gesogte toekennings presteer.”
Slegs wyne wat deur die Wyn-en-Spiritusraad (WSR) gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ’n spesifieke wyk, ’n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ’n landgoed-geproduseerde wyn en enkelwingerdwyn, mag aan die terroir-kompetisie deelneem.
Die SA Terroir-wyntoekennings is van meet af aan geskoei op die wyn van oorsprongstelsel, wat in 1973 in die lewe geroep is. Die kompetisie is trots daarop dat dít die stelsel sodanig huldig.
Sedert die instelling daarvan 50 jaar gelede, is reeds 98 wyke afgebaken en 232 eenhede vir die produksie van landgoedwyn en 1 760 enkelwingerde geregistreer. Talle van die nasionale terroir-wenners die afgelope vyf jaar kom uit wyke wat eers onlangs afgebaken is.
Uit al die wyne wat vir die SA Terroir-wyntoekennings ingeskryf is, word die nasionale wenner van elke kultivar en wynstyl aangewys. Die beste wyne van die kultivars en style in elk van die verskillende gebiede word ook aangekondig. Die beoordelaars wys ook die trofeewenners uit die nasionale wenners aan. Laasgenoemde bestaan uit trofeë vir die beste enkelwingerdwyn, die beste wynlandgoed, die top-terroir-produsent, beste omgewing en algehele top-wyn uit al die inskrywings.
Inskrywings vir die kompetisie sluit vanjaar op 2 Junie en laat inskrywings op 15 Junie. Die aflewering van monsters vir beoordeling is op 14 en 15 Junie. Die beoordeling vind van 27 tot 30 Junie plaas en die aankondiging van die wenners volg op 16 Augustus.
“Hierdie kompetisie lê klem op die Kaapse wynland se terroir en veelsydigheid om hoëgehalte wyne van ’n groot verskeidenheid wyndruifkultivars te maak,” sê die stigter van Novare SA Terroir-wyntoekennings (soos voorheen bekend) en legendariese wynskrywer Marius Labuschagne.
“Die wingerdbou-kundiges se rol is van groot belang om die regte kultivar in die regte terroir te verbou en sodoende topgehalte druiwe vir wyne van die boonste rakke te kan lewer.”


