Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur en vervoer het ’n begroting van R2,25 miljard oor ’n medium termyn vir projekte in die Weskus toegeken, waarvan die Malmesbury-verbypad deel van is.
Die hoofkontrakteur het op 8 Mei vanjaar amptelik met die projek begin, hoewel ’n aantal alternatiewe belynings reeds in 2012 vir die omgewing oorweeg is.
“Die werkgewer se hoofdoelwit is om die provinsiale paaie binne die Wes-Kaap op te gradeer, te rehabiliteer en te onderhou,” sê Jandré Bakker van die direktoraat van bedryfsondersteuningsdienste binne die departement. Werkskepping vanuit die plaaslike gemeenskappe waar projekte plaasvind, is ook hoog op die lys van die departement se prioriteite, voeg hy by.
Die Swartland Gazette het in 2012 berig die verbypad sal hoofsaaklik as ’n vragroete dien. Die projek is deel van ’n groter infrastruktuurroete wat die Weskus-streek met die N1 en die N2 sal verbind. Die korridor sal uiteindelik die druk van die deurgaande verkeer in Malmesbury se dorpsgebied verlig. Die roete sal ook vragverkeer wat van die Weskus-streek na die N1 en N2 beweeg, vergemaklik. Die bestaande verkeer sowel as toenemende verkeersdruk het as motivering vir die noodsaaklikheid van die verbypad gedien.
Die projek, wat na raming sowat R530 miljoen kos, bestaan onder meer uit ’n splinternuwe pad wat by die aansluiting van die R45 en R46 begin en by die bestaande Hopefield-wisselaar teen die N7-snelweg eindig. Die projek sal volgens Bakker sowat 28 maande duur, terwyl die datum van voltooiing vir 8 September 2025 beplan word.
Sleutelrolspelers van die projek is die departement van infrastruktuur en vervoer, die plaaslike gemeenskap en die Swartland-munisipaliteit.
Die projek skep werk vir sowat 220 mense, wat uiteindelik ’n rol in die konstruksie van die verbypad gaan speel.
Die pad behels twee bane van 3,7 m, twee skouers van 2,4 m en ’n nuwe aansluiting by die R45 en R46. Die projek sluit die bou van vyf brûe in.
Bakker het nie op navraag gereageer oor wat met al die grond wat verskuif word, gaan gebeur nie.




