Lede van Malmesbury Majoretteklub se junior en senior span het by hul heel eerste deelname aan die Boland- Prestige-majorettekompetisie skoonskip gemaak. Die geleentheid het Saterdag 9 Maart in die Paarl plaasgevind.
Die Malmesbury-trompoppies het onder meer in die Non Prop-, Flag-, Mace- en Small Drill-afdelings meegeding. Hulle het teen altesaam sewe junior spanne en vyf senior spanne meegeding, wat die kompetisie ekstra stram gemaak het.
Die junior span het gewys hoe hulle hul vlae en stokke bemeester deur eerste plekke in elk van die Flag- en Mace-groepafdelings te wen. Hulle het ook ’n algehele eerste plek in die Small Drill-afdeling huis toe geneem.
Die seniors het hulle oortref toe die span ’n eerste plek in die Non Prop-, die Flag- en die Mace-goepe behaal het.
Daarbenewens het hulle ook die algehele eerste plek in die Small Drill-afdeling verower.
Volgens die afrigter Denise Abdol verdien die deelnemers elke prestasie wat na hulle kant toe kom nadat die spanne en die afrigters baie hard gewerk het.
Die klub se volgende byeenkoms is op 20 April in Bredasdorp.


