Die Paarlse liefling Martelize Brink word mondig by RSG.


Een van Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse radiopersoonlikhede, die Paarlse Martelize Brink, vier vanjaar haar mondigwording in die radio- bedryf ná 21 roemryke jare by RSG.

Paarl Post, susterskoerant van Swartland Gazette, het by haar gaan aanklop om te hoor hoe die afgelope 21 jaar in die professioneleradiobedryf haar lewe beïnvloed het.

As jy terugkyk na jou 21-jaar-reis by RSG, hoe het jou verhouding met radio-uitsaai ontwikkel sedert jy begin het?

“Ek is uiteindelik baie gemakliker agter die mikrofoon. By my vorige stasie was ek die programbestuurder ook en aangesien ons ’n nuwe gemeenskapsradiolisensie gehad het, was ons geweldig bekommerd dat dit weggeneem sou word indien ons die reëls oortree of iets kwytraak waarvan iemand in die besluitnemingsposisies nie sal hou nie. Dit was ’n groot verantwoordelikheid om die stasie op die lug te hou. Ek het dus my woorde oor en oor en oor getel. Die afgelope jare vertrou ek myself baie meer om gemaklik te praat en te weet ek bly op die regte pad. Ek is dus ook baie gemakliker om die grense uit te daag.”

Jy kom oorspronklik uit die Paarl – hoe het jou tuisdorp jou perspektief as omroeper gevorm, en handhaaf jy steeds bande met die gemeenskap? “Ek het tydens covid weer Paarl toe getrek en is só gelukkig om weer in my tuisdorp te leef. Ek probeer betrokke wees en veral om die streek op my sosiale media te bemark. Natuurlik is daar ook ’n sterk band met RSG, gegewe die Taalmonument en ons trots om in Afrikaans uit te saai. Die mense van die Paarl – my mense – motiveer my om ons taal nog beter en meer te bevorder.”

Wat was jou merkwaardigste onderhoud gedurende jou tyd by RSG, en waarom het dit so ’n indruk op jou gemaak? “Hierdie is altyd ’n moeilike vraag aangesien ek elke week soveel onderhoude voer. Natuurlik is die bekendes met wie jy gesels, altyd iets wat jy sal onthou. Iets wat my wel onlangs nogal onkant betrap het, was Jan-Jan Joubert se antwoord op my vraag oor hoe hy eendag onthou wil word. Sy antwoord was net ‘om te weet dat ek empatie vir ander mense gehad het’. ’n Mens sal dink die antwoord sal wees oor sy skryfwerk en sosio-politieke kommentaar. Daardie een sin is belangriker as enige groot prestasie in die lewe.”

Elke loopbaan het sy uitdagings – wat was jou moeilikste oomblik by RSG, en hoe het jy daardeur gewerk?
Dan ook, wat was hoogtepunte wat uitstaan? “RSG se luisteraars is so divers. Dit is geweldig spesiaal. Tog beteken dit dat jy soveel verskillende groeperings op lug moet verteenwoordig. Die groot uitdaging is om almal se leefwêrelde op [die] lug te bespreek, te verken en die ander luisteraars [daaraan] ten toon te stel. Hoogtepunte is regtig om net weer te besef jy het die voorreg om elke dag met mense oor hul lewe en die wêreld te gesels. Wanneer iemand na my toe kom en sê dat hulle elke dag luister en deur die program so baie van die wêreld en hul eie lewe en liggaam leer, is dit elke keer ’n hoogtepunt.”

As iemand wat al langer as twee dekades in die kollig is – hoe het bekendheid jou persoonlike lewe en verhoudings beïnvloed? “Dit bly maar ’n vreemde ding. Ek het nie daaraan gedink toe ek begin uitsaai het nie. Later kom jy agter dit is maar deel van dié soort werk. Ek kan eerlik sê dat dit nie my lewe enigsins [geraak] het nie.

Buiten die feit dat Marius saam met my by Huisgenoot was, natuurlik. Hahaha. Ek dink die belangrikste ding is dat mense geneig is om te dink jy is perfek en moet altyd ’n perfekte rolmodel wees. My antwoord daarop is dat niemand ooit perfek is nie. Al wat ek elke dag kan doen, is om te probeer om die beste mens te wees wat ek moontlik kan wees.”

Jou pad het uitgebrei na die skryf van resepteboeke. Wat het hierdie kreatiewe rigting geïnspireer, en hoe vul dit jou radiowerk aan? “Ek was regtig lus vir ’n uitdaging toe ek die uitgewer vir my eerste boek genader het. Ek het na ’n projek gesoek wat my sou verryk. Ek het die proses geweldig geniet. Dit is so ’n groot deel van my lewe. Daar is naweke wanneer ek net nuwe idees uittoets en niks maak wat ek al voorheen gemaak het nie. Dit gee my nuwe inspirasie en energie.”

As jy nie ’n loopbaan in radio gevolg het nie, watter alternatiewe pad dink jy sou jy miskien gekies het? “Ek wens ek het hier vir jou ’n antwoord gehad. Ek het absoluut nie ’n benul nie – dalk ’n werk as politieke konsultant.”

Hoe het die radiobedryf oor jou 21 jaar verander en hoe het jy by hierdie veranderings aangepas? “Daar was ’n tyd dat mense gedink het radio gaan nie oorleef nie. Radio is volgens my vandag sterker as ooit. Die groot verandering het gekom met sosiale media. Ons werk daagliks daaraan om luisteraars op sosiale media te wys wat agter die skerms gebeur, watter gesprekke voorlê waaraan hulle kan deelneem en die gesprek ná die program voort te sit.”

Wat beskou jy as jou grootste professionele prestasie gedurende jou tyd by RSG? “Ek het ’n paar toekennings gewen, waarop ek baie trots is. Ek gee nie om wie jy is nie – dit beteken altyd vir ’n mens geweldig baie wanneer kenners op die gebied jou werk as die beste kies of wanneer die land vir jou as hul gunsteling stem. Maar, die belangriker prestasie bly – daar waar ek suksesvol was – om mense so ver moontlik te motiveer om mekaar beter te verstaan en dan juis daardie empatie vir jou medemens wat Jan-Jan so mooi bewoord het, in jou lewe te verwelkom.”

Ná 21 jaar van verbinding met luisteraars oor Suid-Afrika heen – wat maak jou steeds opgewonde om elke dag op die lug te gaan? Elke dag op lug wissel geweldig. Daar is nie ’n dag dat ek voel ek doen vandag presies wat ek al voorheen gedoen het nie. Daarby sien ek elke dag so baie daarna uit om van ons luisteraars te hoor – waaroor hulle wonder, na watter musiek hulle wil luister en watter behoeftes hulle het om hul wêreld te verken. Dit sal absoluut nooit “oud” raak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article