’n 64-jarige man is onlangs gevonnis ná die moord op sy vriendin in 2009.

Die voorval het op 20 November daardie jaar plaasgevind.

“Die voorval het op Boesmansdrift, ’n plaas net buite Bonnievale, plaasgevind. Die 64-jarige beskuldigde het vermoedelik ná ’n stryery met sy saamleefmaat, Rachel Fluks, in a bakleiery betrokke geraak. Die slagoffer is die volgende dag ontdek, waar sy reeds dood was,” verduidelik ’n woordvoerder van die Bonnievale-polisie.

Sy voer ook aan die oorledene het aan veelvuldige beserings beswyk.

Hierdie is die ondersoekbeampte se derde langtermynvonnis wat in een van haar sake oopgelê is.

“Die ondersoekbeampte, sers. Landi Appollos, is baie trots op hierdie vonnis en dit spreek van die deeglikheid van die ondersoek. Hierdie saak is ’n deurbraak en word gesien as nog ’n mylpaal – veral in Augustus, wat Vrouemaand is. Geweld teen vroue en kinders is ’n euwel en vonnisse soos hierdie gee ons gemeenskap gemoedsrus oor hul algemene veiligheid.”

Sers. Appollos was nog nie eens ’n lid van die polisie toe hierdie moord gepleeg is nie.

“Maar weer eens bewys dit hoe lank die arm van die gereg werklik is.”

Die beskuldigde is 10 jaar gevangenisstraf opgelê en die vonnis is vir vyf jaar opgeskort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article