Die Malmesbury-majorette-klub se junior en senior atlete het daarin geslaag om weer talle oorwinnings in te ryg terwyl die klub se drie SA spanlede op pad na hul eerste oefenkamp toe is.
Die trompoppies spog met verskeie goue medaljes ná hul deelname aan die onlangse Boland Prestige-byeenkoms, wat op 8 Junie in die Strand plaasgevind het.
Volgens die afrigter, Denise Abdol, was dit ’n “strawwe” kompetisie wat deur verskeie uitdagings voorafgegaan is. “Ons meisies het weer eens bewys niks kry hulle onder nie.
Die spanne het onder meer aan die Small- en Large Drill, Mace, Pom Pom -en Flag-afdelings deelgeneem.
Die klub se Veronique Marthinus, Chenita Abdol en Reese Hartnick vertrek eersdaags (Donderdag 27 Junie) na Gauteng ter voorbereiding vir die Wêreldkampioenskap, wat om die draai is.
Die daaropvolgende oefenkamp vind vroeg in Augustus plaas.
Kostes per atleet beloop tans R18 000 en die ouers van dié drie atlete is hard aan die woeker om genoegsame geld vir hul kinders se deelname aan die internasionale kompetisie in te samel. Enige skenkings is ook welkom, voeg Abdol by.
Die kampioenskap vind van 19 tot 22 September by Grand West in Kaapstad plaas.





