’n Tienjarige trompoppie van Malmesbury het onlangs haar nasionale kleure ontvang.
Veronique Marthinus (10) is tydens die Suid-Afrikaanse trompoppievereniging (SAMCA) se nasionale kampioenskap met haar SA kleure toegerus.
Die Wes-Kaapse been van die SAMCA-uitdunne het op 2 en 3 Februarie by die Hoërskool Hottentots-Holland in die Strand plaasgevind.
Veronique, ’n graad-5-leerder by Liebenberg Primêr, het in 2022 by die Malmesbury-majoretteklub aangesluit, vanwaar sy vinnig haar talente blootgestel en daarvolgens erkenning gekry het.
Haar ma, Hannelie Marthinus, vertel hoe Veronique reeds vandat sy ’n klein dogtertjie was baie lewenslustig was. “As sy besluit het sy hou van iets, neem sy deel,” sê haar ma trots.
Veronique, wat tans in die junior span van haar tuisklub is, het reeds gedurende die eerste week van oefening as die “drummie” van die week uitgeblink, spog sy verder.
“Sy het vinnig ’n groot liefde vir die sport ontwikkel en is ’n ywerige deelnemer,” brei Marthinus uit.
Veronique het haar Boland-kleure in 2023 saam met 13 atlete van Malmesbury se majoretteklub verwerf, vertel haar afrigter, Denise Abdol. Drie lede van die senior span het ook hul SA kleure verwerf – Kirsty-Lee Mcquire (17), ’n gr. 12-leerder van Wesbank Sekondêr, Chenita Abdol (16), ’n gr. 11-leerder van Wesbank Sekondêr en Reese Hartnick (16), in gr. 11 by Schoonspruit Sekondêr.
Dié trompoppies sal aan die einde van die maand hoor of hulle ook die SA span behaal het.





