’n Spesiale gemeenskapspolisiëringsforumvergadering is onlangs (op 10 November) gehou om vakante poste in die bestuur te vul.
Uys van der Westhuijzen van Malmesbury Veiligheid is by hierdie geleentheid ná die bedanking van Henfre Brand as die nuwe voorsitter van die Malmesbury-GPF aangewys.
Nog lede uit die gemeenskap, wat die vergadering bygewoon het, is as deel van die bestuur aangestel.
Luke Titus is as die nuwe openbare kommunikasiebeampte aangewys, Marius de Kock is die nuwe projekkoördineerder, en Sibongile Mbenyana is as een van die addisionele lede aangewys.
Die stasiebevelvoerder van Malmesbury, lt.kol Mzwandile Benjamin Gqabi, wens die nuwe lede alle seën toe in hul bereidwilligheid om die gemeenskap van Malmesbury te dien.



