Malmesbury se trompoppies het met goeie uitslae geskitter by die South African Majorette and Cheerleading Association (Samca) nasionale kampioenskap, wat onlangs by die Peter Mokaba-stadion in Polokwane gehou is.
“Ons junior groep het goed gevaar en hulle het in die junior afdeling ’n derde plek uit al 26 skole wat bymekaar gekom het, behaal,” vertel Jenine Theunissen, sekretaresse van die Malmesbury Majorettes trots.
Die klub is in Oktober 2017 gestig en bestaan uit 30 deelnemers wat in twee spanne verdeel is – juniors en seniors.
Theunissen sê die groep oefen Maandae tot Vrydae van 15:00 tot 17:00.
Die groep bestaan uit juniors van ses jaar oud tot seniors (17 jaar oud).
“Dit is ’n pragtige sport vir meisies waar hulle in verskillende uitrustings en apparate teen ander spanne van ander dorpe in die Boland meeding. Ons is onder Boland Majorettes and Cheerleading Association geregistreer. Ons neem jaarliks in vier tot vyf Boland-kompetisies deel – saam met ander skole en klubs soos Ceres, Klawer, Paarl, Sir Lowry’s Pass, Strand en Grabouw,” sê sy.
Die trompoppies het by die Boland-proewe ook die geleentheid om individuele Boland of SA-klere te verwerf.
Sy sê die klub wil graag alle meisies van ses tot 17 van alle skole in Malmesbury aanmoedig om by die Malmesbury Majorettes-klub aan te sluit.





