Die Swartland-munisipaliteit het Dinsdagmiddag (2 Augustus) ’n splinternuwe brandweerwa ingehul.
Die mooi rooi brandweerwa met ’n outomatiese ratkas is ’n groot verbetering op die voertuig wat vervang word.
Roysten Harris, die brandweerhoof, sê die outomatiese brandweerwa kan 3 000 F water dra en het ’n vloeitempo van 1 800 F.
“Dit bevat ongeveer drie kubieke meter stoorplek met ’n Power take off-pomp (PTO-pomp),” verduidelik Harris.
Volgens Harris is die nuwe voertuig teen ’n koste van R1,55 miljoen (BTW uitgesluit) aangeskaf en dit is toegerus vir Swartland se behoeftes.
Die uitvoerende burgemeester van Swartland-munisipaliteit, Harold Cleophas, het die voertuig namens die munisipaliteit in ontvangs geneem.
“Brandbestryding is ’n gedeelde verantwoordelikheid tussen die plaaslike munisipaliteite en distriksmunisipaliteite, het hy gesê en bygevoeg die toevoeging tot die vloot is ’n waardevolle opgradering.
“Dit sal ’n bydrae lewer tot Swartland se toewyding om inwoners en eiendom te beveilig. Ons moet seker maak ons voertuie en gereedskap word goed in stand gehou en vervang soos en wanneer dit nodig is.”
Hy het gesê dit is in die belang van die gemeenskap. “Gesprekke tussen die onderskeie rolspelers om hulpbronne meer doeltreffend te deel en aan te wend, is aan die gang. Al ons inwoners moet voorkeur geniet.
“Die Swartland-brandweerdienste is verantwoordelik vir struktuurbrande binne die munisipale grense terwyl die distriksmunisipaliteite omsien na veldbrande,” het hy verduidelik.
Cleophas het voorts gesê hierdie is nie die enigste nuwe brandweerwa wat die Swartland-munisipaliteit sal ontvang nie. Die munisipaliteit het vir nog ’n brandweerwa in die huidige boekjaar begroot.




