Malmesbury kan dalk binnekort weer met ’n Rotariërklub pronk as die planne van ’n naburige klub vlot verloop.

Frederik Jansen, ’n voormalige president van die Melkbosstrand-rotariërklub, is oorgehaal om weer ’n Rotariërklub in dié Swartlandse dorp tot stand te bring.

“Malmesbury is ’n gevestigde dorp in die omgewing. Dit is die sentrale punt van besigheid. Dis ’n groot dorp, so daar moet Rotariërs daar wees wat nie weet hulle is Rotariërs nie,” het Jansen in ’n onlangse onderhoud gesê.

Die Rotariërs is ’n wêreldwye netwerk van sowat 1,4 miljoen lede, wat saamwerk om mense bymekaar te bring en aksie neem om langdurige verandering mee te bring – oor die wêreld heen, in gemeenskappe en by mense self.

Die organisasie en sy onderskeie klubs (sowat 46 000 reg oor die wêreld) beywer hulle vir ’n verskeidenheid goeie sake soos die bevordering van vrede; voorkoming en behandeling van siektes soos polio; voorsiening van skoon water, sanitasie en higiëne; die beskerming van moeders en kinders; opvoedkunde; die groei van plaaslike ekonomieë; en omgewingsbeskerming.

Maar hoekom die behoefte aan so ’n klub in Malmesbury?

“Die Rotariërs in Suid-Afrika het ’n tradisie van klubs in Kaapstad en in die noorde van die land, maar het nie regtig klubs in die gebiede tussenin nie. Ons mik nou om klubs in hierdie kleiner dorpe te vestig. Ons het drie jaar gelede begin om ’n klub in Atlantis gevestig te kry, en dit het ’n goeie uitkoms gehad,” verduidelik Jansen.

Jansen is oortuig dat ’n Rotariërklub in Malmesbury net tot voordeel van die dorp en sy mense sal wees.

“As ’n mens na die dorp kyk, sluit dit Malmesbury self, Wesbank, Abbotsdale, Chatsworth, Riverlands, en Kalbaskraal in. Dit is dus ’n wye gebied met sy eiesoortige maatskaplike probleme. Die Rotariërs doen uiteraard goeie werk. Ons probeer die gemeenskap dien – hetsy dit ’n voedingsprogram by ’n skool is waar die kinders in die oggend sonder kos opdaag, of die ondersteuning van ’n ACVV-kantoor wat hulp kan verleen. Daar sál kwessies in die gebied wees wat aandag kort; geen dorp in die land het nie behoeftes nie,” reken hy.

Volgens Jansen is die eerste stap om ’n perseel te kry waar voornemende klublede kan vergader asook om mense van die klub bewus te maak.

“ ’n Skoolsaal is altyd ’n goeie plek om aanvanklik bymekaar te kom. Mense wat belangstel om Rotariërs te word, kan my kontak. Miskien weet hulle van persele wat ons kan gebruik. Ek sal ook tydens die eerste vergaderings van die Rotariërs se groot geeste nooi om aanbiedings te kom doen oor wat presies die Rotariërs die omgewing kan bied en om die proses te verduidelik. Ons wil mense opgewonde kry oor ’n plaaslike Rotariërklub.”

Volgens Rotariërs Internasionaal se reëls moet ’n klub minstens 20 lede hê voordat dit amptelik tot stand kan kom, maar Jansen glo meer as genoeg sal belangstelling toon om hierdie minimum te behaal. In die tussentyd kan Malmesbury as ’n satellietklub van die Melkbosstrand-klub tot stand kom.

“Dit sal gaaf wees as ons voor die einde van die jaar ’n Rotariërklub in Malmesbury gevestig kan kry.”. Mense wat belangstel om by die Rotariërs betrokke te raak, kan Jansen by 084 515 7079 bel of ’n WhatsApp stuur. . Die eerste vergadering word Woensdag (16 Augustus) om 18:00 by die Schoonspruit Sekondêre Skool in Malmesbury gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article