Ná vele versoeke en ’n intensiewe konsultasieproses met al die sakeondernemings wat geraak word, het die Swartland-munisipaliteit besluit om ’n 60-minute-beperking op straatparkering in Hugenotestraat, Malmesbury, in te stel.
Die munisipaliteit is deur die ondernemings in Hugenotestraat versoek om die parkering in die straat spesifiek te ondersoek.
Volgens ’n verklaring wat deur die munisipaliteit uitgereik is, is bevind dat voertuie vir ’n hele dag in Hugenotestraat geparkeer word, maar nie noodwendig ondernemings in die straat besoek nie. Dit veroorsaak dat kliënte van die onderskeie ondernemings in Hugenotestraat nie parkering kan kry wanneer hulle wel by die sakepersele in die straat moet wees nie.
“Hugenotestraat dien ook verskeie mediese praktyke, waar pasiënte parkering benodig en nie noodwendig lang afstande kan stap tot waar hulle moet wees nie. Na afloop van ’n intensiewe konsultasieproses, waar al die onderskeie ondernemings genader is vir insette of teenkanting, is nege skrywes ontvang, waarvan net twee nie ten gunste van die 60-minute-beperking is nie en ’n 120-minute-beperking voorstel. Die kwessie, met die insette van die openbaredeelnameproses, het voor die burgemeesterskomitee gedien en die voorstel dat ’n 60-minute-beperking op die parkeerplekke ingestel word, is goedgekeur,” het Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder, in die verklaring gesê.
Die besluit sal in fases ingestel word om die impak te monitor. Fase 1 sal van die Sarel Cilliers- tot Truterstraat-aansluiting strek en Fase 2 sal van Truter- tot Langstraat strek.
Die nuwe beperkings sal ingestel word sodra die nodige padtekens aangebring is. Die beperkings sal deur die verkeersafdeling gepatrolleer word.
“Die munisipaliteit sal inwoners ook inlig wanneer die beperking ingestel word en ons versoek asseblief alle inwoners asook besoekers se samewerking.”



