Ek het nooit voorheen besef afgetredenes hou sowaar die ekonomie sinvol aan die rol nie. Noudat vriende en familie hierdie lewensfase betree, sien ek hoe bedrywig raak finansiële raadgewers, boedel- en testamentmanne, eiendoms-, motor- en reisagente, apteke, dokters en allerlei terapeute, sielkundiges en sowaar ook verslaggewers, wat oor hul voete val om oor bekendes wat aftree, te skryf.

Pastorale beraders het ook al ernstige navorsing oor hierdie lewensfase gedoen en baie het doktorstesisse daaroor geskryf. Grapjasse laat ook nie op hulle wag nie – hulle maan mense om tog nooit af te tree nie omdat die oorlewingsyfer van hierdie lewensfase so uiters skraal is.

By ouer mense bly dit ’n kwessie van keuses: Jy kan jou nuwe lewensfase gebruik om te sit en TV kyk en stagneer, of jy kan kies om aan te hou groei, jouself in nuwe rigtings te ontwikkel en seker maak hierdie genadige fase van jou lewe bly sinvol.

Die interessante projekte wat sommige afgetredenes aanpak, is dikwels inspirerend – stokperdjies soos hout- en naaldwerk (en bybly met moderner produkte en patrone), fotografie (sommige foto’s wen pryse en word selfs in koerante soos Die Burger geplaas), wentuine in hul agterplaas of begin weer hul skool-Duits opknap.

Wanneer jy die versamelgogga reg aanwend, gaan dit jou brein soepel hou.

Só vertel toegewyde muntversamelaars van uitdrukkings soos ‘Mandela-smileys’ en die redes waarom ons geen Thabo Mbeki- of Zuma-koppe agterop enige munt sal vind nie. Ek wonder wel oor die man wat laasweek op RSG vertel het van sy versameling van 23 000 dasse!

In Kleinmond (ander kusdorpe seker ook) swem ’n klompie afgetrede vroue elke somer- en winteroggend vroeg saam in die see. Op ’n WhatsApp-groep volg hulle hul “weerkaptein” se daaglikse navorsing oor die weer- en golfvoorspellings voordat hulle op die beste swemtyd besluit; hulle voel skoon siek as hulle ’n enkele dag se swemmery in die yskoue water misloop, al verwys mense dikwels na hulle as Kleinmond se “mal vroue”.

Daar is seniors wat begin of aanhou met marathons hardloop, boer, fietsrenne of welsynswerk doen, wat nuwe loopbane aanpak, soms eiehandig ’n eie nuwe huis bou of daardie wêreldtoer aanpak waarvan hulle lankal droom.

Almal hoef nie so dramaties te toer soos Heidi Hetzer, die afgetrede Duitse renjaer, nie. Toe sy op 76 besef haar kinders wil nie haar reusagtige familie-onderneming oorneem nie, het sy alles verkoop en met haar 1930-Hudson reg rondom die wêreld begin toer. In Noord-Amerika het sy kanker oorwin, in Suid-Amerika is sy kaal besteel, in Australië het die motor se houtwiele so uitgedroog dat dit eers in waterbalies moes week, en in Kaapstad het sy krokodiltrane gehuil toe haar geliefde Hudson se enjin uitgehaal moes word vir herstelwerk.

Moenie jouself toelaat om eendag spyt te wees oor verwaarloosde lewensdrome nie – nie almal kry die kans om op 89 ’n eerste valskermsprong te doen soos Gordonsbaai se Billy du Preez nie.

Maak seker daarvan jou lewe is vol – betekenisvol.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article