Destyds is Kersfeeskoeke tradisioneel gemaak na afhandeling van die Ierse en Britse oeste.
Vrugte, wat toe ’n skaarste was, is in Kerskoeke gebruik, aangesien dit ’n manier was om vrugte, wat destyds ’n groot luukse was, te bewaar.
Eiers sou destyds ook skaarser wees namate die wintermaande aanstap, asook botter.
Om Kerskoeke voor te berei, was ’n lang proses aangesien die koeke maande lank moet verouder voordat dit reg is om geëet te word.
Die Ierse antieke Keltiese mense het hul Nuwejaar op 1 November gevier – voor Kersfees.
Die Ierse Barmbrack-vrugtekoek was dus in ’n sekere mate ’n voorsmakie; ’n bederf daardie tyd van die jaar met die belofte van Kersfees wat kom.
Dit was nie so ryk soos ’n Kersfeeskoek nie, maar meer soos ’n brood met ’n lekker vulsel gedroogde vrugte en speserye, en is met ’n dik smeersel botter daarop bedien.
Die Ierse naam hiervoor, Bairín Breac, beteken “gevlekte brood”. Tradisionele simbole van geluk is destyds in die brood gevoeg, soos ‘n ring, ’n ertjie, ’n stukkie lap, ’n vuurhoutjie en ’n muntstuk.
Hierdie vrugtebrood is ’n baie maklike klassieke teetyd-bederf – klam en heerlik.
Jy benodig:
225 g gewone meel
2 t bakpoeier
375 g pakkie vrugtemengsel
250 ml koue tee
50 ml whisky
125 g ligte bruinsuiker
1 groot eier
½ teelepel gemengde speserye
1. Plaas die vrugtemengsel in ’n bak en gooi die whisky en koue tee oor. Laat die vloeistof oornag trek.
2. Verhit die oond vooraf tot 170C, en smeer en voer ’n 900-g-broodpan uit. Meng die meel, bakpoeier, suiker en gemengde speserye in ’n mengbak. Maak ’n holte en breek die eier in. Meng die eier met die droë bestanddele met ’n houtlepel. Voeg ’n bietjie van die vloeistof waarin die vrugtemengsel gelê het, by en meng dit deur. Jy het dalk nie al die vloeistof nodig nie, maar jy wil ’n nat deeg hê.
Roer dan die vrugtemengsel totdat alles deeglik gemeng is.
3. Skep die nat deeg in die uitgevoerde broodpan en plaas in die oond op die middelste rak en bak vir een uur. Haal uit die oond en laat effens afkoel voordat jy die brood uit die broodpan haal en op draadrak plaas totdat dit afgekoel het.
4. Bedek dan met kleefplastiek en tinfoelie en laat staan vir een tot twee dae voordat jy dit sny. Bedien in skywe gesmeer met ’n bietjie botter en lekker koppie tee!





