Media24 het hom nou tot die hof gewend in ’n poging om outeursregskending van sy tydskrifte en koerante die hoof te bied.

Dit volg nadat hy vir meer as twee jaar ’n aktiewe veldtog gedryf het om die onregmatige verspreiding van pdf-weergawes van sy publikasies, waaronder die groep se koerante, tydskrifte, e-publikasies en tuiskoerante op WhatsApp-groepe hok te probeer slaan aangesien dit op diefstal neerkom.

Hoewel die hofstukke, wat by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is, verband hou met twee vroue van Oudtshoorn wat glo die administrateurs was van WhatsApp-groepe waarop die pdf-weergawes van die koerante en tydskrifte versprei is, en wat op dié wyse die outeursregte van Media24 geskend het, meen die mediagroep se uitvoerende hoof, Ishmet Davidson, dat “mense wat ons outeursregte skend, moet besef dat ons hulle dieselfde gaan behandel en dit nie daar gaan laat nie,” aldus Netwerk24.

Davidson het aan die publikasie gesê aangesien mense hulle nie gesteur het aan die veldtog en pleidooie om die onwettige verspreiding te staak nie, word Media24 “met weinig tot geen keuse nie” gelaat as om hulle nou tot die hof te wend. Volgens Davidson gaan die mediabedryf onder moeilike tye gebuk met tydskrifte en koerante wat reeds ’n stryd om oorlewing voer. Hy het gesê die groep se besluit om hom tot die hof te wend, is nie net in belang van Media24 nie, maar “oor die behoud van die mediabedryf in geheel”.. Hierdie berig is aangepas van die oorspronklike wat op Netwerk24 verskyn het. Lees die volledige berig: https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/hof/media24-vat-vroue-hof-toe-oor-skending-van-outeursreg-via-whatsapp-20231212

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article