Casey Davis (25) en Jenna Phillips (37), beide voormalige grondslagfase-onderwyseresse by Liebenberg Primêr in Malmesbury, het dié skoolvakansie kinders aan die lees gekry.

Davis en Phillips het verlede jaar besluit om uit hul poste te bedank om ’n literêre inisiatief, genaamd Ikigai Igniting Literacy, op die been te bring. Ikigai is ’n Japannese woord wat beteken “jou rede vir wees,” sê Davis. “Ons het deur ons werk en die projekte waarmee ons besig was, ontdek dat dit ons Ikigai is om letterkunde onder kinders aan te moedig en te bevorder.”

Volgens Davis het hulle vroeg besef dat hulle nie net met die kinders nie, maar ook met hul ouers, onderwysers en skole moet werk om letterkunde behoorlik te laat seëvier.

Davis, oorspronklik van Knysna, het vier jaar by Liebenberg as ’n gr 1- en gr 3-onderwyseres gewerk, terwyl Phillips van Abbotsdale gr R- en gr 1-leerders onderrig het. Dit is waar hulle die eerste keer ontmoet het en sommer gou hul passie vir letterkunde begin deel het. “Dit is waar alles begin het. Ons het gedurig maniere probeer vind om die leerders te help en met nuwe idees vorendag te kom om letterkunde en lees te bevorder, veral omdat leerders gewoonlik nie Engels as ’n huistaal het nie,” vertel Davis.

Davis en Phillips, wat die afgelope jaar hard gewerk het om die inisiatief van stapel te stuur, het pas ’n drie weke lange lees-vakansieprogram met leerders voltooi.

”Ons het vir drie weke literêre aktiwiteite op ’n prettige en interaktiewe wyse aangebied,” voeg Davis opgewonde by.

Tussen 20 en 30 leerders tussen gr. R en gr 3 het daagliks by die plaaslike Swartland-sport-gemeenskapsaal in Wesbank bymekaargekom, waar ’n nuwe wêreld in letterkunde en lees aan hulle bekend gestel is.

“Ons het elke dag met sang en storietyd afgeskop, gevolg deur ’n verskeidenheid sensoriese aktiwiteite. Ons het ook baie geteken en kreatiewe skryfwerk gedoen. Die kinders is ook daagliks aangemoedig om self te lees,” brei Davis verder uit oor hul vakansieprogram, wat gefokus het op die bevordering van literêre vaardighede, maar ook om ’n veilige en warm omgewing vir die kinders gedurende die vakansie te skep.

Davis voeg by dat Suid-Afrika met ’n algemene probleem sit waar 80% van gr. 4-leerders nie met begrip kan lees nie.

“Daarom wil ek en my kollega meer geleenthede vir kinders daarstel om in ’n gesellige en interaktiewe omgewing te leer.”

Davis en Phillips bied ook werksessies vir ouers en onderwysers aan en stel hulpbronne beskikbaar wat sal help om uiteindelik doeltreffende letterkunde- en leesvaardighede by hul leerders tuis te bring. . Besoek hul Facebook-blad vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article