Margit Meyer-Rödenbeck as almal se gunsteling, Liewe Heksie. Foto:


Liewe Heksie het besluit dis tyd dat sy op haar besem klim en die land verken en sommer hier en daar ’n bietjie stilhou dat haar besem kan rus en sy sommer ’n vertoning kan aanbied: Liewe Heksie en die Rolskaatse.

Haai oe, maar sy het bietjie vergeet van verjaarsdae, en daarom vier sy haar “eerste” verjaarsdag vanjaar sommer ’n paar keer. Met haar persente, ’n biki-kini en rolskaatse beloof sy om Blommeland nog meer kleurryk te maak. Maar ai, die groot grillerige Geelheks probeer haar vieringe in die (rolskaats)wiele ry. Levinia vra mooi: “Asseblief, klein en groot kaboutervriende van Menseland, help my dat ons al die stoute karnallies kan verwilder.”

Verna Vels se immergroen verhale word verlewendig met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck is die “ultimate”, nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf. ’n Aanbieding vir die hele gesin: by vorige vertonings vanjaar het selfs van die volwassenes gesê dit was hul vermaaklikste produksie in jare.

Liewe Heksie en die Rolskaatse is ook by vanjaar se KKNK met ’n Kanna-prys vir die beste kinderteaterproduksie beloon.

“Senuwees en skater; impromptu-teater op sy beste! Kinderteater het duidelik ’n doel: nie net om iets aan die kleingoed te bied nie, maar ook om verstokte siele weer in sprokies en spel te laat glo,” skryf Marianna Malan in Die Burger.

Wanneer: Saterdag 20 Augustus

Hoe laat: 17:00

Waar: Rawsonville – Die Stalle Cabriere

Bespreek by: 071 489 9279

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article