Liebenberg Primêr se graad 4- tot 7-leerders het Vrydag vir die laer grade se leerders toebroodjies voorberei. Foto: Casey Davis

Credit: SYSTEM

Leerders in Graad 4 tot 7 van Liebenberg Primêr in Malmesbury het Vrydagoggend (22 Julie) 2 000 toebroodjies gemaak en geskenk aan hul jonger medeleerders ter herdenking van Mandeladag (18 Julie).

Casey Davis, ’n Graad 1-onderwyseres by die skool het aan Gazette gesê twee plaaslike ondernemings het bygedra tot die donasie van die 2 000 toebroodjies.

“Ons het die toebroodjies om 08:30 buite in die quad-area begin maak en om 13:00 klaargemaak,” het sy gesê.

“Hierdie was ’n goeie inisiatief gewees vir die ouer graad-leerders om saam te werk en toebroodjies te maak vir die jonger graad-leerders,” meen Davis.

Die brood is deur Sasko geskenk terwyl die plaaslike SPAR vir hulle ’n koopbewys gegee het om smere te koop. Die personeel by die skool het ook smeer geskenk. Die kinders kon met hierdie skenkings grondboontjiebotter- en konfytbroodjies maak. Die inisiatief is deur Davis en ’n groep assistente gefasiliteer.

Desmond Moller, eienaar van Superspar Malmesbury en SPAR The Bank wat die koopbewys vir die smere geskenk het, het gesê: “Dit was ’n voorreg gewees om te sien hoe die kleiner graad kinders glimlag terwyl die groter graad kinders vir hul die toebroodjies maak en oorhandig.”

Clyde Jeffrey Koopman, skoolhoof van Liebenberg Primêr het gesê dit is altyd goed om die kinders te leer wat dit beteken om vriendelik en opreg teenoor mekaar te wees.

“Om te deel en nie altyd te ontvang nie maar om ook dankbaar te wees.

“Ons doel [was] om genoeg toebroodjies te maak om nie net by ons skool uit te gee nie, maar vir die leerders om te gaan skenk aan organisasies in ons gemeenskap soos ons ouetehuise, kinderhuise en kleuterskole,” het hy gesê.

Koopman het bygevoeg dat twee klasse op ’n keer uitgekom het om die toebroodjies te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article