Ek het verlede week my 27ste verjaarsdag gevier – ’n ouderdom wat ek nooit as jongeling sou kon indink om te bereik nie; deels omdat ek steeds kind wil bly en aan die ander kant die vrees om 30 te nader.

Verjaarsdae het hierdie manier om perspektief en realiteit te bied – hoe vreemd ook al. Ek was nooit iemand wat bang was om oud te word nie, maar namate ’n mens ouer word, voel dit asof jy al minder mylpale bereik – mylpale soos trou en kinders kry en huis koop en al daai goed wat die wêreld vir ons sê ons voor ’n sekere ouderdom moet bereik.

Ek wil vandag sê dit is oukei, daar waar jy is. Dit is waar jy moet wees. Ek deel graag ’n paar lesse wat ek oor die jare geleer het:

1. Ouderdom is nie iets om te vrees nie. Die wêreld sal altyd teen jou wees, maar in jou wysheid (en grysheid) lê jou krag.

2. ’n Winskopie is nie altyd ’n winskopie nie, tensy dit skoonmaak­middels is – koop dan sommer twee.

3. Ons as mense is meer buigsaam en aanpasbaar as wat ons dink.

4. Koester jou familie en vriende. As hulle ver woon, bel hulle gereeld. As hulle naby is, stop vir koffie (of wyn).

5. Daarvan gepraat – hoe ouer jy word, hoe meer geneig is jy tot hoofpyn (ná ’n paar glase wyn).

6. Wees lief. Omarm dit. Glo. Leef dit.

7. Crossfit is nie vir almal nie. En dit is ook oukei.

8. Die lewe werk in seisoene. Ons is nie almal wintermense nie, maar die hitte sal jou binnekort weer verwelkom; só ook ons omstandighede.

9. Aanlyn inkopies kan gevaarlik wees. As bokse jou huis begin verswelg, dan weet jy jy het ’n probleem!

10. Om jou belastingopgawe in te dien, is moeilik. Maak altyd vriende met iemand wat weet hoe om jou te help – verkieslik ’n rekenmeester.

11. As die lewe druk, praat met iemand wat jy vertrou. Ons dink soms ons pla ander, maar party mense wil en sal jou regtig bystaan.

12. Kyk daai lysie van reekse op Netflix wat jy al so lank brand om te kyk. Tyd wag vir niemand nie.

13. Moenie alles oordink nie. Doen net, tensy dit is om by ’n vreemdeling in ’n kar te klim. Moet liewer nie.

14. Maak herinneringe bymekaar. Die lewe wag vir niemand nie. Koester dit. Bewaar dit. Neem dit af en plaas dit op sosiale media. Jy sal eendag dankbaar wees.

15. As die vuur lyk of hy wil doodgaan, gooi nog hout op.

16. Jou ma is jou beste vriend. Deel met haar alles en bel haar gereeld – jy skuld haar minstens dit.

17. Moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie. Tel die verfkwas op, laai TikTok af of sluit by Parkrun aan. Jy sal nie weet totdat jy probeer nie.

18. Jy kan nie almal red nie en jy kan ook nie elke liewe diertjie langs die pad optel nie. Dit is hartseer, maar ongelukkig die werklikheid.

19. As die koek platval, besmeer dit met Nutella en sit dit voor. Die kuns lê in die smaak, nie die voorkoms.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article