Boelies kom in elke faset van die lewe voor, en dikwels loop skoolgaande leerders van kleuter- tot hoërskool deur onder boelies óf word sélf boelies.
Wat is ’n boelie?
Volgens Yolandi van den Heever, vroeëkinderontwikkelingspesialis en eienaar van Oasis Club Learning in Kaapstad, maak ’n boelie in kleuterskool ander op ’n gereelde basis fisiek, emosioneel of op ’n sosiale vlak seer.
Emosionele boelies fokus op verbale boeliegedrag, terwyl sosiale boeliegedrag die uitsluiting van ’n kleuter uit speletjies of aktiwiteite verseker.
Volgens Van den Heever moet ouers nooit ’n kind se klagtes ignoreer of minag nie.
Wees op die uitkyk vir tekens soos:. Jou kleuter wil nie meer skool toe gaan nie.. Hulle wil nie vertel saam met wie hulle gespeel het nie.. Jou kleuter soek verskonings om nie aan groepsaktiwiteite deel te neem nie.. Neem kennis van hierdie veranderinge en bespreek dit met die skool en onderwysers.
“Jy as ouer is jou kind se beste kans as hulle geboelie word. Neem aksie sonder skroom, en moenie jou kleuter se ervarings wegpraat nie,” volgens Van den Heever.
Maak vooraf seker wat die kleuterskool se boeliebeleid behels en hoe die beleid toegepas word.
Wat gemaak as jou kind ’n boelie is?
As dit vorendag kom jou blinkoog-rabbedoe is dalk ’n boelie, maak eers seker dit is wel boeliegedrag.
’n Mens moet baie versigtig wees om kleuters te etiketteer, want dit is ’n ouderdom waar kinders impulsief optree en sonder voorbedagte rade iets doen sonder om werklik aan die gevolge te dink.
Indien jou kind wel boeliegedrag toon, moet dit nie geïgnoreer word nie.
Raadpleeg ’n kundige en bou ’n verhouding met die skool sodat oplossings gevind kan word.
Raad van ’n kundige
“Boeliegedrag kan nie reg geslaan word nie,” het Van den Heever verduidelik.
Die oorsaak van die gedrag moet bepaal word deur ’n berader te besoek.
Hier is nog raad:. Bou aan oop en eerlike verhoudings met jou kind. . Bring tyd saam met jou kleuter deur, want dit is al manier hoe jy sal agterkom as jou kind se gedrag verander.. Bemagtig jou kind om vir hulself op te staan, sonder om terug te boelie.. Moenie afknouende gedrag van jou kleuter teenoor jouself toelaat nie. Dis nie aanvaarbaar as jou kleuterseuntjie jou met die vuis boks nie.. Moenie afknouende gedrag van jou kleuter teenoor diere toelaat nie. Kleuters moet leer om liefdevol, maar ferm rondom diere te wees.. Wees die voorbeeld. Kinders doen nie soos ander sê nie, hulle doen soos ander doen.



