Carina du Toit Becker en leerders van Eilandia Primêre Skool.

Credit: SYSTEM

Die Rooiberg-Breëderivier-bewaararea het onlangs aan boomplantmaand deelgeneem. Dit is inisiatief om gemeenskappe by die plant en waardering van inheemse bome betrokke te maak.

Die bewaararea-bestuurder, Carina du Toit Becker, het aan twee plaaslike primêre skole onderskeidelik tussen 50 en 55 bome elk geskenk, waaronder ysterhout-, seepbos- en soetdoringbome, wat deur die kwekery se vroue van sade wat in die bewaararea-omgewing versamel is, gekweek is.

Die span is op 2 September na Vinkrivier Primêre skool en op 9 September na Eilandia Primêre skool waar elke leerder die geleentheid gekry het om ’n boom te plant. Leerders en personeel het entoesiasties deelgeneem en die verantwoordelikheid aanvaar om toe te sien dat die bome gereeld water kry.

Die projek sal met belangstelling deur die kwekery-span dopgehou word met die verwagting dat ’n groener, skaduryke skoolterrein oor die jare sal ontstaan om geslagte lank ’n verskil aan die landskap sal maak.

Bome bied ’n tuiste vir en beskerming aan voëls en insekte. Bome absorbeer koolstofdioksied en produseer suurstof wat ons inasem. Bome anker die grond en help só om erosie te voorkom. Bome is ook ’n bron van voedsel vir mens en dier wat wortels, blare, blomme, vrugte, sade, neute, stuifmeel en sap produseer.

Volgens Du Toit Becker is bome van sleutelbelang vir die mens se voortbestaan.

“Om plante – en bome – te plant, dra ’n positiewe betekenis wat ons aan ons kinders moet oordra.”

Sy bedank die hoof en personeel van al twee die skole vir die geleentheid asook Chiltern Farms vir die komplimentêre appels wat voorsien is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article