My vriendin se dogter het by haar kêrel in Gauteng gaan kuier. Sy sou per vliegtuig reis, met ’n huisbesem as verrassingsgeskenk – deels omdat hy nie ’n besem het nie en ook omdat sy hierdie besemstok propvol fyngeskryfde boodskappies en simboliese prentjies versier het.

Alle waarskuwings ten spyt, stap sy trots en fier die trappies teen die vliegtuig op, die mooie besem as deel van haar handbagasie. Sy sou eers later vertel hoeveel ellende sy met die lang stok beleef het, hoeveel skaafplekke dit opgedoen het, en hoe sy grappe moes trotseer.

Saam met haar en Die Besem se aankoms in Gauteng het haar kêrel vir haar ook ’n verrassing gehad – hy is oorgeplaas Kaap toe. Iewers met sy terugtrekkery het die besem verdwyn en haar baie moeite was verniet.

“As ek toé reeds geweet het wat ek nou weet,” het sy menigmaal hieroor gesê.

Dit klink bekend – die begeerte om beter besluite te neem, met die wysheid wat terugskoue bring.

Terugskoue het ’n ander vriendin geleer dis minder slim om met ’n vars snoek uit die Kaap na Johannesburg te vlieg. ‘Dis mos net ’n twee-uur-vlug’, was die gedagte. Maar soms word vlugte vertraag, soms kry ’n mens ’n hittegolf in die winter, en as al hierdie onwaarskynlikhede jou tref op dieselfde dag dat ’n motorongeluk reuse-opeenhopings veroorsaak op pad na jou vakansiehuis, waarsku terugskoue hard en duidelik teen hierdie soort dapperheid.

’n Mens kry ook ’n ander soort hindsight by mense wat altyd verklaar hulle het dit vooraf gewéét. “Ek het mos gesê die Springbokke gaan wen (of verloor); ek het geweet daardie verhouding (of nuwe besigheid) gaan nooit uitwerk nie”.

Sielkundeboeke vertel ons hierdie verskynsel is redelik normaal; dis nie noodwendig ’n sielkundige afwyking nie. Dit raak wel kommerwekkend as mense so behep en selfvoldaan raak met hul gewaande voorspellingsvermoëns dat hulle hul vroeëre uitsprake oor mense of situasies selektief begin onthou of selfs ontken.

Wanneer hierdie voorspellers van formaat nie meer die vermoë openbaar om gebeurtenisse objektief te evalueer en daaruit te leer nie, raak dit buitensporig, waarsku sielkundiges.

Nadat Paul die seekat tydens die 2010-Sokkerwêreldbyeenkoms ’n merkwaardige vermoë getoon het om wedstryde waarin Duitsland speel, se uitkomste reg te voorspel, het ons familie begin om die soort wysaards rondom ons – wat altyd alles kamtig voorspel het – Paultjie te noem. Want Paul kon regtig vooruit voorspel – hy het in 12 uit die 14 wedstryde waaroor sy mening gevra is, vooraf korrekte voorspellings oor die wenner gemaak.

Leef gerus jou lewe voluit. Leer uit jou foute, groei en geniet, want ons hoef nie almal Paultjies te wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article