Die Langeberg-munisipaliteit het sy inwoners in die steek gelaat.

Of jy dink aan slaggate in paaie, onbehandelde riool wat uitloop, probleme om lopende water te voorsien, wetstoepassing wat nie plaasvind nie of enige van die ander dienste wat die Langeberg-munisipaliteit veronderstel is om te lewer, is daar swak dienslewering.

Op 30 Junie 2022 het die munisipaliteit nagenoeg R358 miljoen in die bank gehad. Die vraag is wat die munisipaliteit met soveel geld wil maak terwyl gewone inwoners of sakelui elke dag sukkel om ‘n bestaan te maak en verder ook nog met die swak dienslewering moet saamleef?

Die Langeberg-munisipaliteit het volgens sy jongste geouditeerde finansiële state meer as R80 miljoen se wins uit elektrisiteit gemaak. Dit is duidelik dat die kraggebruiker in Langeberg veel meer betaal as wat sy diens die munisipaliteit kos. Boonop het die Langeberg-munisipaliteit ’n 18,65%-verhoging in kragtariewe by die raadsvergadering op 28 Maart 2023 begroot en voorgestel.

Dit beteken elektrisiteit per eenheid kan tot R3,93 (BTW ingesluit) vir residensiële gebruikers, R3,84 (BTW ingesluit) vir kommersiële gebruikers en R2,42 (BTW uitgesluit) vir landbougebruikers kos.

Dit laat ons as inwoners soms magteloos voel om hierdie kostes op ons te laat afdwing deur dieselfde mense wat ons verkies het, ten spyte van ’n merkwaardige en sigbare verswakking in dienslewering en ekonomiese druk. (Hierdie toondowe raad het ook binne ’n week nadat die nuus oor TigerBrands se sluiting verlede jaar gepubliseer is, vir hulself ’n verhoging ingestem).

Neem die mag van u stem terug deur voor 25 April 2023 na www.change.org/LangebergElektrisiteit te gaan om u stem gratis hierteen uit te spreek en onomwonde te verklaar: genoeg is genoeg.


Cobus Bester,

Robertson

Die munisipale bestuurder van die Langeberg-munisipaliteit, DP Lubbe, antwoord:Die R358 miljoen in die bank is reeds toegewys en verder sal dit verlammende en finansiële wanbestuur wees as die munisipaliteit met ’n nul-kontantbalans sit.Sommige van die toeseggings is gewone maandelikse bedrywighede (soos roetine-instandhouding van bates, lewering van dienste, watersuiwering, elektrisiteitsaankope by Eskom, ens.), wat elke maand sowat R65 miljoen beloop. Kennis moet geneem word dat hierdie saldo ook toelaes insluit wat van die nasionale regering ontvang is om van die kapitaalprojekte in die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) te voltooi.Met betrekking tot die vermelde wins van R80 miljoen, moet gelet word op die feit dat dit nie werklike kontant is nie, maar ’n rekeningkundige wins. Nog iets om op te let is dat dit nie winste uit elektrisiteitsverkope is nie, maar winste van die hele munisipaliteit wanneer jy die inkomste wat uit alle dienste (water, sanitasie, vaste afval, elektrisiteit en eiendomsbelasting) verdien word, met uitgawes wat vir die boekjaar 2021-’22 aangegaan is, vergelyk. Die kontantgedeelte van hierdie verkope is in die kontantsaldo van R358 miljoen ingesluit, soos in die bostaande paragraaf verduidelik.Die verhoging van 18,65% op elektrisiteitstariewe is presies gelyk aan die verhoging in die Eskom-tariewe soos deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) bepaal. Die munisipaliteit koop elektrisiteit direk by Eskom en verkoop dit aan die gemeenskap, dus word dit regstreeks deur die verhoging in die Eskom-tariewe geraak. Die 18,65% is steeds ’n konsepverhoging onderhewig daaraan dat Nersa ’n riglyn oor die verhoging en finale goedgekeurde tariewe aan alle munisipaliteite uitreik.Ons besef enige tariefverhoging kan vir ons inwoners moeilik wees. Ons het ’n gebalanseerde benadering gevolg om te verseker die munisipaliteit kan voortgaan om gehaltedienste te lewer terwyl die uitwerking op ons inwoners se sakke tot die minimum beperk word. Ons het alle pogings aangewend om te verseker die verhoging in eiendomsbelasting word tot ’n absolute minimum van slegs 1% beperk. Dit is ver onder die inflasiekoers ten einde die algehele verhoging van ’n huishouding se munisipale rekening tot die minimum te beperk.Die Langeberg-munisipaliteit is nog besig met sy openbaredeelnameproses, wat ons gemeenskapslede aanmoedig om hul insette oor die konsepbegroting, GOP en verwante dokumente voor 30 April 2023 vir die aandag van die munisipale bestuurder in te dien. Kommentaar moet duidelik gemerk word: “BEGROTING 2023-’24”. Kommentaar wat ná die sluitingstyd ontvang word, sal nie oorweeg word nie.
. E-posse kan na mm@langeberq.qov.za gestuur word. ’n Skriftelike voorlegging kan by enige Langeberg- munisipale kantoor ingehandig of gestuur word na Private Sak X2, ASHTON, 6715.

. Of stuur aan ons ’n boodskap op ons amptelike sosialemediabladsye, ons webwerfkontakvorm of enige Langeberg- munisipale SMS-nommer teen R1,50 per SMS.

. Die gemeenskap word versoek om slaggate en ander munisipale diensversoeke by ons 24/7-kliënte-oproepsentrum by 0860 88 1111 of 023 615 2219 of per WhatsApp by 065 211 7822 of per e-pos na info@langeberq.gov.za aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article