Eendag lank, lank gelede, het ’n man sy werk verloor omdat hy nie oor vertroulike sake kon stilbly nie (pleks ons almal daaruit leer). Dié man was ’n haarkapper, en sy uitdagendste taak het aangebreek toe die koning hom ontbied, want die koninklike spruit moes sy eerste haarsny kry.
Eerstens moes hierdie haarkapper ’n kontrak teken om alles wat hy in die kasteel sien, vertroulik te hanteer. Groot was sy skok toe die seuntjie se hoed afgehaal word want . . . die koning se seun het donkie-ore!
Miskien kon die haarkapper kundig rondom die vreemde ore hare sny. Hopelik kon hy die hele tyd ’n professionele gesigsuitdrukking handhaaf, maar hy kon om die dood nie dié storie vir homself hou nie.
Uit vrees vir die koning en omdat hy dolgraag die storie vir iemand wou vertel, het hy ’n baie diep gat in die veld gegrawe. Daar het hy ’n hele dag lank die woorde wat sy lippe gaar brand, in die gat in geskree: Die koning se seun het donkie-ore. Die koning se seun het donkie-ore!
Daarna het die haarkapper beter gevoel; ligter. Hy het die gat toegegooi, teruggekeer werk toe en met sy lewe aangegaan – totdat fluitjiesriet bo-oor die haarkapper se woorde begin groei het.
Toe kinders in daardie omgewing gaan speel het, het hulle laatmiddae die fluitjiesriet se woorde gehoor: Die koning se seun het donkie-ore! Speel-speel het dit ’n liedjie geword; die liedjie het saans saamgegaan huis toe, en baie gou was almal van hierdie petalje bewus.
Die swaarste voëltjie om te vang, is woorde waarna jy terugverlang, en is met rede een van die groot klassieke waarhede.
“Hoor hoe skinder die voëltjies,” sê ons oudste familielid terwyl ons laasweek ’n stapkans tussen die reënbuie kry.
Ek lag haar uit, want dis die eerste keer dat ek dié gesegde hoor. Selfs die Bybel maan ons om ons tonge te beheer, verdedig sy.
Miskien kan ons tog verby ander mense se skades en skandes kyk en lesse daaruit leer, besluit ons saam – sodat ons nie dieselfde foute maak nie; sodat ons nie ook soos Nataniël sulke lelike woorde van Chinese van ’n groot verhoog af sal sê nie – ongelukkig vir Nataniël met ’n Afrikaanssprekende Chinees in die gehoor.
’n Ligter (skinder)storie kom van ’n 30-jarige wat vertel hoe hy as tiener steeds saam met sy fikse ma kon draf. Een middag, toe ’n verwoede hond op hulle afstorm en net-net nie oor die heining spring nie, wonder hy hardop wat sal hulle doen as ’n hond hulle regtig bespring? ‘Ons sal bid’, was sy ma se ferm antwoord.
Al drawwend bedink die tiener sy ma se edel voorbeeld, net om wreed ontnugter te word toe ’n baie groot hond straatlangs op hulle afpyl – geen heining om hierdie aanval te keer nie.
En, pleks van bid, vertel hy, het sy ma haar skraal postuur regop getrek en kliphard (en doeltreffend) gegil: “F…of!”





