Boffie Strydom, uitvoerende burgemeester van Weskus Distriksmunisipaliteit (WDM), en raadslid Kallie Louw, speaker van WDM, saam met die kunstenaars en ander rolspelers by die Verantwoordelike Toerisme-konferensie in Saldanha.


Weskus Toerisme, wat onder die Weskus-distriksmunisipaliteit val, het sy jaarlikse Verantwoordelike Toerisme-konferensie in Saldanha gehou. Vanjaar het die konferensie op kuns en kultuur gefokus met die doel om in die toekoms ’n erkende Weskus Kunsroete te hê. Toerisme het ’n baie belangrike rol om te speel om die plaaslike ekonomie te groei en daarom prioritiseer die distriksmunisipaliteit verskeie toerismeprojekte oor die Weskus heen.

Die uitvoerende burgemeester van Weskus-distriksmunisipaliteit, Boffie Strydom, wat die gaste toegespreek het, het die rol van kunstenaars in die toerismebedryf beklemtoon.

“Die Weskus is ’n baie unieke streek. Behalwe die mooi dinge om te sien, die lekker kosse om te eet en die vriendelike mense het, ons ook briljante kunstenaars en entrepreneurs en dit is waarom ons vandag hier is. Om die werke van ons kunstenaars en besigheidseienaars in die toerisme industrie te erken en om gedagtes uit te ruil oor hoe ons hierdie deel van toerisme kan groei” het hy gesê.

Oom Gert Bezuidenhout van die plaas Uitsig, buite Citrusdal, bou speelgoed van herwinbare produkte en van sy speelgoed was by die konferensie uitgestal. “Ek wil Weskus Toerisme bedank vir hul ondersteuning en vir die platform wat geskep is vir ons. Dit gee my nuwe energie om my besigheid te groei” het Oom Gert gesê.

Weskus Toerisme sal gedurende die volgende paar maande met verskeie ander rolspelers vergader om die Weskus-kunsroete te laat realiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article