Ek n Jy, ’n organisasie sonder winsbejag in Koringberg, het onlangs ’n skaakklub vir die jongspan in dié gemeenskap begin. Met die hulp van ’n plaaslike borg en die kundigheid van ’n plaaslike skaakmeester, Peter Farao, speel daar nou 30 seuns en dogters tussen die ouderdomme van 10 en 14 jaar drie keer per week skaak by die Path out of Poverty (POP)-sentrum in Koringberg.
“Ons het beslis jong talent hier en daar is ’n paar kinders wat regtig hulle skaak nou ernstig opneem,” meen Farao, wat in 1999 in Malmesbury gebore is en sy hele lewe lank in Koringberg woon.
“Skaak is my passie. Op skool het die skaakgogga my gebyt en ek het talle skaaktoekennings op skool ontvang, soos sertifikate van verdienstelikheid asook medaljes. Ek is gestrem en ek kon nie rugby speel nie en dus het skaak my gepas. Dis mos ook ’n sport!”
Sy leuse in die lewe is om alles wat hy aanpak met wilskrag te doen, want, sê hy, “sonder wilskrag sal jou planne misluk”.
Hy beskryf sy betrokkenheid by Ek n Jy as ’n hoogtepunt in sy lewe.
“Ek n Jygee my die kans om betrokke te wees by die ontwikkeling van jongmense. Ek n Jy het ’n platform geskep vir sportontwikkeling soos raakrugby, netbal en straatkrieket en hulle program sluit nou skaak in, waaroor ek super bly is,” sê hy opgewonde.
Farao is ook beskikbaar vir private skaaklesse vir ouer spelers in die Koringberg en omliggende areas.
“Ek weet daar is baie mense wat kan skaak speel en daar is ook baie wat wil leer. Skaak is ’n spel wat geoefen moet word, so ek is bereid om ouer spelers te help om hulle skaakpassies te begin of te heraktiveer.”
Iets interessant wat meeste mense nie van hom weet nie, is dat hy ’n platejoggie is.
“Ek is maar ’n skaam persoon en hou nie regtig van uitstaan in die dinge wat ek doen nie. Ek is nederig in sulke opsigte.”
Farao droom wel daarvan om eendag as ’n klankingenieur te kwalifiseer sodat hy ’n lewe as platejoggie kan nastreef.
. Ek n Jy beplan ’n skaakklub-finaal op 29 April of 6 Mei 2023. Almal is welkom om die skaakspelers te kom ondersteun. Hou asseblief hul sosiale blad Ek n Jy op Facebook en @eknjycommunity op Instagram dop vir ’n bevestiging van die datum.
Vir enigiemand wat graag wil leer skaak speel of hulle skaakpassie wil heraktiveer, kontak gerus Ek n Jy se bestuur, Celicia Mackay en Elizabeth de Klerk by 083 226 6099. Of epos socialite@socialdma.co.za vir meer inligting.
Donasies vir die ontwikkeling van skaak en ander sportsoorte word ook verwelkom.




