Dié gebou het sedert 1920 Koringberg se tweede rollermeule gehuisves.


Die eeufeesvieringe van Koringberg, ’n besonderse plattelandse dorp in die Swartland, begin eersdaags.

Die streek is reeds propvol verskeidenheid – van die Weskus se see tot die wuiwende koringlande, die beste terroir vir wynmaak tot volop aktiwiteite, bevestig Swartland Toerisme. En Koringberg word beskou as een van die streek se talle juwele.

Graanboerdery is een van die kernaktiwiteite, en met koring as die grootste gewas, is die streek nie verniet bekend as die broodmandjie van die Kaap nie.

Maar, soos dit is, lê skatte nie altyd langs die hoofpaaie nie. So 10 km anderkant Moorreesburg, by die gewilde Desert Rose-padstal, draai jy wes en 6 km verder, oorkant die randjie, lê dié dorpie, wat vanjaar 100 jaar oud is.

Name en hul oorsprong het dikwels uiteenlopende verduidelikings, en dié dorp, wat in 1923 tot stand gekom het, is geen uitsondering nie. Een van die verklarings is die berge koring wat boere destyds in sakke by die plaaslike koöperasie, waar hulle hul oes afgelewer het, opgestapel het. ’n Ander verduideliking is die vaal gras wat teen die kop of berg (Koringberg) agter die dorp groei en in die lentetyd pluime maak, wat kompleet soos kolle koring lyk.

Vandag is Koringberg een van die kleinste dorpies in die Swartland – rustig en steeds half plaas.

Die dorp het by die 2 000 inwoners en as jy ’n besige hoofstraat verwag, is Koringberg nie die plek nie.

By die oostelike ingang is ’n boetiekhotel in aanbou, maar naas twee kleindorpse winkels en ’n voggieswinkel, het die hoofstraat, wat sake betref, deesdae eintlik net ’n gesamentlike agentskap van die poskantoor en die munisipaliteit.

Koringberg se geskiedenis dateer terug na die plaas Hooggelegen in 1709, wat later in drie plase onderverdeel is. Eens bekend as Warren’s Camp (’n ene meneer Warren was destyds ’n hoofingenieur by die spoorweë), het die dorp sy ontstaan gehad toe lidmate in dié geweste van die Hopefield- en Moorreesburg NG-gemeentes die nuwe gemeente op 23 Oktober 1923 op die plaas Brakwater gestig het.

Die vergadering is in ’n graanstoor by die spoorwegkamp gehou.

Die dorp hou nou vroeg in Oktober (6-8 Oktober) eeufees omdat die oestyd later in Oktober aanbreek en die graanboere hulle dan daarop moet toespits.

Skaars 118 km van Kaapstad af, maar nog eg platteland, kan jy hier nog soggens hane hoor kraai en skape en perde op die ruim dorpserwe sien wei – pragtig groen in die winter en vol blommetjies langs die strate in die lente en in die somer.

Wel, dan kan dit nogal warm raak, net soos elders in die Swartland.

As jy tussen die groen (en in die vroegsomer geel) graanlande oor daardie randjie kom, troon graansilos links en die boompies van die begraafplaas regs oor die dorp.

Bouwerk aan die eerste gedeelte van die NG kerkgebou is in 1924 begin, met die toring wat in 1955 bygevoeg is.

Die kerktoring het nie ’n haan op nie, maar eerder baie gepas ’n koringaar saam met die kruis wat die vier windrigtings aandui.

Twee van die oudste geboue langs die hoofstraat is eie aan die graanstreek – dié van die eerste twee meulens wat gebruik is.

Die eerste een is tans ’n winkel en die ander staan toe, met die pos- en munisipale agentskap wat uit ’n kantvertrek bedryf word.

Laasgenoemde is ’n dubbelverdieping-struktuur met dik mure aangrensend aan die markplein. Dit is gebou uit leiklip en ’n mengsel van grond, klei en strooi.

Dit staan al lank toe, maar was later jare ’n informele museum en huisves steeds ’n interessante versameling landbougereedskap.

Een is ’n rollermeul, wat deur ’n stoomenjin aangedryf is, wat van ongeveer 1920 tot ná die Tweede Wêreldoorlog in gebruik was. Almal uit die omgewing het hul koring daarheen gebring om gemaal te word.

Al is die Desert Rose-padstal die naaste restaurant vir ’n ete of ’n heerlike koppie koffie, bied Koringberg etlike verblyfopsies. Dié raak al meer gewild onder besoekers wat die platteland se skoonheid opsoek of ’n bergfietsroete wil aandurf.

Daar is ook ’n staproete teen Koringberg vanwaar ’n pragtige uitsig jou begroet.

Stappers op die Cape Camino besoek deesdae die dorp en oornag gereeld by Die Ark op die plaas Hooggeleë.

Koringberg raak baie gewild – nie net vir naweekbesoekers wat uit die stad wil wegbreek nie, maar dit is reeds die tuiste vir talle voormalige besoekers wat net nie weer kon weggaan nie. Onder hulle tel kunstenaars, skrywers en digters, regslui, geleentheidbeplanners, afgetrede bibliotekarisse, joernaliste en fotograwe.

Heelparty ou huise is al gerestoureer, terwyl meer moderne huise ook gebou is.

Die Ou Pastorie is een van die skatte op dorp en dié se eienaar het vroeër wingerd in die voortuin geplant om wyn by ’n boetiekkelder te maak.

Die verjaardagnaweek begin Vrydag 6 Oktober met ’n piekniekkuier saam met die sanger Arno Jordaan. Saterdagoggend is daar stalletjies, kindervermaak, trekkerritte, wynproe en potjiekos, gevolg deur ’n lamspitbraai en straatdans die aand.

Die Sondag word ’n opelugkerkdiens gehou om die naweek af te sluit.

. Skakel Lize Steyn by 082 263 9424 vir navrae en verdere inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article