’n Middeljarige man van Darling is op 30 Januarie omstreeks 12:45 deur lede van die Darling-polisie op aanklag van diefstal in hegtenis geneem.
Sers. Johnatan Filander, ’n polisiewoordvoerder, sê hulle het inligting ontvang dat die verdagte glo ’n aankoper van koperkabels is. ’n Sak vol koperkabels is glo in die 43-jarige verdagte se besit aangetref.
Die diefstal van kragkabels het sedert 15 Desember 2022 tot 30 Januarie vanjaar in woonbuurte in Darling gedurende veral beurtkragtye toegeneem. Sowat 60 diefstalgevalle met betrekking tot kragkabels is aangemeld.
Hoewel geen sindikaatbetrokkenheid vermoed word nie, het die diefstal van koperkabels die afgelope week begin afneem. Slegs twee diefstalgevalle is intussen weer aangemeld. Filander skryf die afname toe aan 15 lede vanuit die gemeenskap wat op 2 Februarie amptelik as die Community in Blue-taakmag ingesweer is. Dié 15 gemeenskapslede, wat elk aan buurtwagte behoort, is die afgelope week aktief by die bekamping van koperkabeldiefstal betrokke.
Die Community in Blue-lede sal in die toekoms die plaaslike polisie in alle optredes bystaan.
Volgens Filander begin die lede werk sodra beurtkrag begin. Hy nooi die plaaslike gemeenskap om deel van die groep te vorm. Enige belangstellendes kan die Darling-polisiekantoor by 022 409 1300 skakel.



