Die implementering van Eskom se beurtkrag bo fase 4 het ’n groot uitwerking op die Langeberg-munisipaliteit se vermoë om water by sy water- en afvalwatersuiweringsaanlegte doeltreffend te behandel, te ontsmet en te pomp.
Die munisipaliteit doen dus ’n beroep op inwoners van Ashton en Zolani om water vir een minuut te kook om te verseker dat die water veilig is vir gebruik. Inwoners kan ook water met huishoudelike chloorbleikmiddel behandel om dit vir verbruik te ontsmet.
Waterkookvereistes:
As ’n veiligheidsmaatreël moet inwoners water vir ten minste een minuut kook om vir drinkdoeleindes te gebruik.
Laat dit afkoel en stoor water in skoon voedselgraadhouers. Bedek die houers.
Alternatiewe ontsmettingsmetode vir water:
Meng een teelepel ongeparfumeerde huishoudelike chloorbleikmiddel met 20 liter water. Laat die mengsel vir twee uur staan.
Hou die water bedek met ’n lap of deksel om vlieë en vuiligheid uit te hou. Jou water is nou veilig om te drink.
Die munisipaliteit vra sy inwoners moet asseblief geduld uitoefen en die munisipaliteit so ver as moontlik bystaan “aangesien ons ’n tekort aan watervoorsiening en rioolstorting in die gesig staar, wat alles verband hou met die lang tydperke van beurtkrag”.
Die Langeberg-munisipaliteit sal voortgaan om water gedurig te toets om die gehalte van drinkwater te monitor, en sal inwoners inlig wanneer die water veilig is vir gebruik tot ’n mate waar voorsorgkook nie meer nodig is nie.



