Elke vier weke kom ’n nuwe groep studente van die Universiteit Stellenbosch vir hul werkbeurt in Primêre Gesondheidsorg na die Swartland-hospitaal in Malmesbury.

Elke jaar word ’n gemeenskapsgeoriënteerde primêre gesondheidsorgprojek deur die studente gefasiliteer.

Nadat behoorlike ondersoek in die gemeenskap ingestel is, is besluit vanjaar se projek sal op die bevordering van die gemeenskap se kennis oor tuberkulose (TB) fokus.

Tuberkulose is ’n bakteriële infeksie wat hoofsaaklik die longe, maar in sekere gevalle ook ander organe, raak.

Mycobacterium Tuberculosis, die bakterie, is in 1882 ontdek, maar die siekte was destyds reeds in 3 300 jaar oue geskrifte wat in Indië ontdek is, beskryf.

Wat moet jy weet?

TB is baie algemeen in Suid-Afrika en veral in die Wes-Kaap. Volgens die Wêreldsgesondheidsorganisasie (WHO) is 64 000 mense in 2018 in Suid-Afrika aan TB dood en 301 000 het die siekte opgedoen. Die grootste deel van die bevolking in die Wes-Kaap is al aan TB blootgestel, maar gelukkig is dit slegs ’n klein persentasie wat aktiewe TB ontwikkel, simptome het en aansteeklik is. Enigiemand kan aktiewe TB ontwikkel, maar dit is aansienlik meer algemeen in diegene met verswakte immuniteit of wat saam met iemand wat TB het, woon of werk. TB versprei deur klein druppeltjies in die lug wanneer iemand met aktiewe TB hoes of praat – of selfs sing. Algemene simptome van aktiewe TB is ’n hoes wat langer as drie weke aanhou; slym of bloed wat uitgehoes word; erge moegheid; nagsweet (tot jou lakens sopnat is); gewigsverlies en ’n verlaagde eetlus.

Hoe kan die verspreiding van TB verhoed word?
. Kinders moet hul BCG-inenting by geboorte kry (dit voorkom erge komplikasies van TB in kinders).. Bedek die mond en neus wanneer jy hoes of nies. . Maak vensters in beknopte vertrekke oop vir goeie ventilasie.. Maak seker dat vertrekke natuurlike lig deur die dag kry.. Gaan dadelik kliniek toe indien jy simptome ontwikkel en neem jou medikasie getrou (ná twee weke van behandeling is die pasiënt nie meer aansteeklik nie).

Behandeling behels gewoonlik die gebruik van antibiotika vir ses maande. Dit is baie belangrik om die hele kursus te voltooi, al voel ’n mens ná die eerste paar weke beter.

Die TB-bakterie is spesiaal aangepas om in die menslike liggaam te oorleef. Dus is dit nodig om medikasie vir die voorgeskrewe tydperk te neem om die bakterieë heeltemal uit te wis. Wanneer ’n kursus nie voltooi word nie, kan die weerstandige bakterieë oorleef en vermeerder. Dit lei tot ’n infeksie wat sterker medikasie en langer behandeling nodig het om die weerstandige bakterieë dood te maak.

Kom ons werk almal saam en maak die Swartland TB-vry!. Bronne wat nageslaan is:

1. https://www.cdc.gov/tb/topic/basics/default.htm

2. https://www.who.int/health-topics/tuberculosis#tab=tab_1

3. https://www.tbalert.org/about-tb/what-is-tb/prevention/ . Die berig is saamgestel deur Renée van Zyl en Christian Schmidt. Die meegaande inligtingspamflet is deur Laaiqah Jeewa, Sean-Michael Bhikha, Nasser Cassim en Tawfeeq Hendricks ontwerp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article