Kokkedoor kry ‘n ander uitrusting en soek nuwe kossterre vir die tiende seisoen van kykNET se gewilde kos- werklikheidsreeks. Die program trek nie net ‘n nie nuwe voorskoot aan nie, maar kry ook twee nuwe beoordelaars.
In sy volgende gedaante gaan die reeks as Kokkedoor: Son & see bekend staan, terwyl die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32) gaan besluit watter deelnemers koning kraai.
Die TV-vervaardigher kykNET soek nou na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember ‘n hoofgereg op die kykNET-spyskaart gaan wees.
Kokkedoor: Son & see is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Buiten Kokkedoor, wat in 2012 die eerste keer voorgesit is, en Kokkedoor: Vuur & vlam, was daar ook Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.
Volgens Kokkedoor se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, het Kokkedoor: Son & see ‘n paar unieke bestanddele, wat dit van die vorige reekse onderskei.
“Mense moet as ‘n span van twee familielede inskryf met boonop ‘n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees,” sê hy. “Dit kan byvoorbeeld ‘n ouma en ‘n kleindogter, ‘n ma en seun, skoonsusters of niggies en neefs wees – solank hulle ‘n soort familieverband het en die jongste spanlid minstens 18 jaar oud is.
“Nog ‘n verskil is dat ons vir Kokkedoor: Son & see net na huiskokke soek en geen deelnemers met ‘n kwalifikasie as professionele sjef mag deelneem nie.
“Die rede hiervoor is dat Kokkedoor: Son & see die kollig wil laat val op die nostalgiese rol wat kosmaak in ‘n familieverband speel en die manier waarop dit soos ‘n goue draad tussen die verskillende geslagte loop.”
Die nuwe aanbieders het geen bekendstelling nodig nie, en al twee het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap. Herman en Yolani spog nie net albei met sjefskwalifikasies nie, maar het ook elk reeds hul verskyning in talle kook- en leefstylprogramme op die kassie gemaak.
Volgens Yolani, wat ook ‘n restaurateur is en in 2017 as die wenner van SARIE se voorbladgesigkompetisie aangewys is, wou sy nog altyd haar kosvernuf in die media deel. Herman, wat talle topverkoperboeke op sy kerfstok het en onlangs as Netwerk24 se smaakmaker van die jaar aangewys is, sê hy droom al van 2013 af om ‘n Kokkedoor-beoordelaar te wees.
Wat jy alles moet weet om in te skryf:
• Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ‘n e-pos na navrae@kokkedoor.tv.
• Sluitingsdatum vir inskrywings is 30 April 2025.
• Die jongste lid van die span moet ten minste 18 jaar oud wees en die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees.
• Die twee deelnemers móét ‘n familieverwantskap hê, soos ‘n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs.





