Vir die kinders van die Sonstraal Kleuterskool was vanjaar se uitreik gevul met vreugde in die vorm van sang, ’n Kersopvoering en geskenke. Foto: Gerald Pietersen


Radio Tygerberg 104FM het vanjaar die harte van Sonstraal Kleuterskool in Darling opgehelder met ’n Kerskonsert en Kersgeskenke.

“Dit bly ’n voorreg om deel van die Jeriasending te wees,” vertel Benescke Janse van Rensburg, bedieningshoof by Radio Tygerberg 104FM. “Dit is ’n ‘legacy-projek’ wat reeds ongeveer 35 jaar gelede begin is. Ons reik uit na Darling om te onthou dat ’n verandering in ’n gemeenskap soms by jou as individu kan begin.”

Die Jeriasending is ’n uitvloeisel van ’n boer wat 35 jaar gelede tot bekering gekom het. Die boer het die dopstelsel stopgesit en besluit om sy werkers met geld en nie meer met wyn nie te betaal. Hy wou die probleme in die gemeenskap weens alkoholmisbruik aandurf en uitskakel. Saam met die boer se bekering het Soon Zevenster, die stigter van Radio Tygerberg 104FM, destyds die Jeriasending op die been gebring, waartydens sendelinge die plaasgemeenskappe van die Swartland en Weskus bedien.

“Dit was vir ons almal ’n strawwe jaar,” vertel Gert Korah, wat saam met sy vrou, Evelyn, die Jeriasending se leiers is. “Tog kon ons sien hoe God werk wanneer ons aanmeld om sy lig en liefde met die kinders te deel.”

Vir die kinders van die Sonstraal-kleuterskool was vanjaar se uitreik gevul met vreugde in die vorm van sang, ’n Kersopvoering en geskenke. “Ons boodskap was eenvoudig sodat die kleuters kan onthou dat Jesus Christus die grootste geskenk tydens die feestyd bly,” vertel Janse Van Rensburg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article