Vanjaar se wyndruifoes gaan kleiner wees, maar goeie gehalte kan verwag word.


In die aanloop tot die 2023-wyndruifoes – van Januarie tot April – dui die vierde van vyf oesskattings deur wingerdboukundiges en produsentekelders op ’n kleiner oes as 2022, sowel as die drie vorige skattings wat gedurende die 2023-seisoen gepubliseer is.

“Die oes word in hierdie stadium kleiner voorspel as die oes wat in 2022 by kelders ingeneem is. Wynmakers en wingerdboukundiges stem egter ooreen – die goeie gehalte druiwe hou groot belofte in vir die maak van uitstekende wyn,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges, wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam Sawis (Suid-Afrikaanse wynbedryfinligting en -stelsels) uitreik.

Die aanloop tot die seisoen is gekenmerk deur ’n warm en droë winter, wat meestal warmer as gewoonlik oor al die wynproduserende streke was, terwyl die reënval noemenswaardig minder was, met die uitsondering van die Noord-Kaap. Die bot was vroeër en egaligheid was bevredigend. Sterk groeikrag, gedryf deur volmaakte fotosintese tesame met die droër grond, het set in sekere gebiede negatief beïnvloed. Veral colombar en cabernet sauvignon se trosse kom losser voor in hierdie stadium. Harde reënbuie gedurende die eerste week van Desember het groot verligting tot die meestal warm en droë seisoen gebring. Hierdie welkome reën het druk op besproeiingskedulering verlig, maar het ook swamsiektedruk, veral witroes en donsskimmel, verhoog.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is versprei oor ’n wye geografiese area met verskille in klimaat en terrein wat ’n noemenswaardige uitwerking op die grootte van die oes het. Met al drie vorige 2023-oesskattings was alle streke behalwe die Klein-Karoo laer as 2022 geskat. Met hierdie skatting verander die tendens egter, en alle streke word nou afwaarts geskat in vergelyking met 2022 se totale opbrengs.

Die netto-afname in die skatting word toegeskryf aan verskeie uitdagings wat wyndruifprodusente in die gesig staar, onder meer Eskom-beurtkragskedules, waar ’n gebrek aan elektrisiteit in intensiewe besproeiingsgebiede talle besproeiingspompe sonder krag laat. Dít, tesame met die droë winter/lente-toestande, lei tot kleiner korrelgroottes met ’n laer oesgewig. Die later kultivars soos cabernet sauvignon en colombar word tans gepars, en namate die trosse geweeg word, word die effek van swak setomstandighede met ’n laer trosgewig gesien. Wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap, Olifantsrivier en Swartland het ook die algehele gebied van die bedryf laat krimp en reënbuie in die rypwordingsperiode – veral die harde reën van die eerste en tweede week in Maart – het verdere uitdagings meegebring.

“Die klimaat gedurende die volgende paar weke is van kardinale belang en kan steeds die oesgrootte beïnvloed. Dit is nou belangrik om vrugsones oordeelkundig oop te maak sodat lug- en ligbeweging ten beste kan plaasvind gedurende hierdie uitdagende omstandighede met hoë siektedruk,” sê Schutte.

Die vyfde oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders word in Mei uitgereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article