Plaaslike polisielede van die Darling-polisiekantoor het onlangs op ’n ongelisensieerde vuurwapen en meer as 100 patrone beslag gelê. Die .22-rewolwer met ammunisie is in die besit van ’n 56-jarige man van Darling gevind.
Die verdagte het glo die vuurwapen by twee minderjarige seuns gekoop. Die polisie het gereageer nadat inligting rakende die transaksie ontvang is. Volgens die verdagte het die seuns betrokke by die voorval dié vuurwapen tussen vullis in ’n gegoede buurt in Darling ontdek toe hulle deur rommel gekrap het. Die seuns is steeds soek.
Volgens sers. Johnatan Filander, ’n polisiewoordvoerder, is die vuurwapen en die reeksnommer getoets, maar nie wettig geregistreer nie. Die verdagte wat die vuurwapen gekoop het, is op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem.
Indien enigiemand meer inligting oor die betrokke vuurwapen het of weet waar die twee minderjarige seuns is, kan hulle die Darling-polisiekantoor skakel.
Die ondersoekbeampte betrokke by die saak is sers. Denver Solomons.
Die verdagte het op 30 Junie in die landdroshof in Malmesbury verskyn.



