’n Skermgreep van die video wat wyd op sosiale media versprei is.


’nHerrie het die afgelope week op sosiale media losgebars nadat ’n video van die KFC-kitskostak in Malmesbury se vullisterrein geneem en versprei is.

Volgens die takbestuurder, Henriëtte Swarts, is die video deur ’n kliënt wat in die deurrybaan gewag het, afgeneem. Sy verduidelik verder en sê die vullisverwyderingsdienste het weens Paasnaweek en die vakansiedae nie vullis gedurende hul gewone tye kom verwyder nie.

“Die personeel was in daardie stadium besig om (die vullisterrein) skoon te maak toe die video geneem is,” voeg Swarts by.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) onder wie die plig van omgewingsgesondheid val, het by navraag bevestig dat hulle bewus is van die video wat op sosiale media sirkuleer.

“Die distriksomgewingsgesondheids­praktisyn het onmiddellik by die tak gaan besoek aflê,” sê Heinrich Robertson, kommunikasiebeampte by die WDM.

“Die video is geneem toe die werkers van KFC die vullis by die winkel verwyder en een van die vullissakke gebreek het. Volgens die WDM is vullisverwydering die verantwoordelikheid van die plaaslike munisipaliteit. Hulle het egter die publiek verseker dat die vullisverwydering by voedselpersele altyd tydig geskied. “Dit is waar dat Paasnaweek, soos ander vakansietydperke, groter las op vullisverwydering plaas, maar dat dit nie higiëniese risiko’s vir die publiek ingehou het nie.

“Die plaaslike KFC-tak voldoen aan Omgewingsgesonheidsregulasievereistes wat insluit dat die winkel ’n geslote vullisgebied het, dat vullis in digsluitende houers geberg word en dat die tak se wegvoerstelsel aan die munisipale rioolstelsel gekoppel is,” het die WDM benadruk.

Die Swartland-munisipaliteit het ook op sosiale media gereageer en gesê dat die saak wel onder hulle aandag gebring en daarop gereageer is.

Die video is meer as ’n 1 400 keer op Facebook en onder meer Tiktok gedeel, terwyl honderde inwoners en kliënte hul ongelukkigheid oor die beeldmateriaal uitgespreek het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article