Karoolam sal voorts ’n geregistreerde handelsmerk wees en nie enige lam mag die woord Karoo dra nie.


Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het die besluit van die registrateur verwelkom om “Karoo Lamb / Karoolam” as ’n geografiese aanduiding (“GI”) in die Suid-Afrikaanse register in te sluit kragtens die regulasies vir die beskerming van geografiese aanduidings en oorsprongbenamings.

Meyer het gesê: “Ons vier die feit dat ‘Karoo Lamb / Karoolam’ die eerste Suid-Afrikaanse produk is wat as ’n GI onder die Wet op Landbouproduktestandaarde geregistreer is. Gevolglik is die afgebakende gebied, interaksie tussen produk en geografie, aanvaarbare produksiepraktyke en sertifiseringsprosesse beskerm. In wese word die unieke manier waarop Karoolam geproduseer word, erken vir sy hoë gehalte en standaarde en sal dit beskerm word.

“Hierdie registrasie beskerm die reputasie van Karoolam en sal verseker dat die finansiële en reputasievoordele na die streek terugkeer,” het Meyer bygevoeg.

In sy kommentaar het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gesê: “Ek verwelkom die stap om Karoo Lamb /Karoolam as ’n geografiese aanduiding te erken. Die unieke aard van die Karoo se lam was reeds wêreldbekend en hierdie benaming sal die streek se landbousektor ’n verdere hupstoot gee en werkskepping help aandryf. Ek wil almal bedank wat hard gewerk het om hierdie erkenning te verkry, wat die Karoo bekend sal maak en die Wes-Kaap se reeds indrukwekkende landbousektor, wat ’n sleuteldeel van ons provinsiale ekonomie is, verder sal vertoon.”

Dr. Dirk Troskie, die direkteur van sakebeplanning en strategie by die Wes-Kaapse departement van landbou, beklemtoon dat die unieke kombinasie van die Karoo se geologie, reënvalpatrone, strawwe klimaat en unieke plantegroei, uitloop op lam- en skaapvleis met unieke, maklik onderskeibare, sensoriese eienskappe.

Dr. Troskie het gesê: “Verskeie wetenskaplike studies het getoon dat weiplante in die Karoo-streek kruie- en skimmel-geur-eienskappe aan vleis van die skape van hierdie streek verleen. Karoo-lamsvleis het spesifieke aromatiese en sensoriese eienskappe, wat direk aan die geografiese gebied toegeskryf kan word. Om erken te word, moet die tipiese natuurlike plantegroei van die Nama-Karoo- en Karoo Biome-vetplante binne die Groot Karoo teenwoordig wees op die plaas waar die Karoolam vandaan kom.”

Die Wes-Kaapse dorpe Beaufort-Wes, Laingsburg en Prins Albert val binne die kernstreek van die Karoo- geografiese gebied wat 19,33 miljoen hektaar natuurlike weiding beslaan en sal by hierdie registrasie baat.

“Diere wat op plase in die Karoo-streek grootgemaak word deur vryloopweiding op Karooveld, kwalifiseer as Karoolam. Bewys van oorsprong van die diere moet gelewer word deur die naspeurbaarheidstelsel van die kwalifiserende abattoirs, wat moet verifieer dat alle diere wat deur die geregistreerde en gelyste eienaars gelewer word, van plase in die gedefinieerde Karoostreek afkomstig is

“Ons glo dit is slegs die eerste stap om die uniekheid van die Karoo te verseker.

“Die geleenthede vir produsente om hierdie voorbeeld te volg, is eindeloos vir ander Karoo-geteelde en -grootgemaakte diere.

“Miskien sal ander streke soos die Hantam, die Klein-Karoo en die Overberg mettertyd ook erkenning kry vir hul lam,” het Meyer afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article