Kalbaaskraal pronk nou met sy eie biblioteek. Die No Stone-stigting in Kalbaskraal het die amptelike opening van die biblioteek, Saskia’s Place, op 7 Desember gevier.
Mark Moore, een van die stigters, sê hy is verheug om te sien die nuwe fasiliteit word sedertdien as ’n biblioteek gebruik.
Leerders van die omgewing het op 12 Desember hul rapportuitslae onder mekaar en met Moore by die biblioteek gedeel. Volgens hom is die plaaslike inwoners se kinders baie leergierig en kom daagliks na die biblioteek om hulself te leer.
Die biblioteek is vernoem na Saskia, ’n tiener van Kalbaskraal, wat sowat ’n jaar gelede haar eie lewe geneem het. Die No Stone-stigting wou haar hartseer verhaal in iets positief verander deur haar nalatenskap in die vorm van ’n plek van hoop te eer.
Saskia’s Place nooi alle lesers van alle ouderdomme om die leesstof by die biblioteek, ’n eerste van sy soort op die landelike dorp, te kom geniet.
“Die entoesiasme was aansteeklik en dit was ’n oomblik van pure genot om te aanskou hoe die jonger geslag hulself in die wêreld van literatuur gooi,” vertel Moore op die dag van die opening.
Lauren Apolis is tans die bibliotekaresse, wat tot Maart volgende jaar deur die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport betaal word. Volgens Moore het Angela Blomkamp, Saldanha se streeksbibliotekaresse, en Selvyn Booyens van die departement berge versit om die biblioteek ’n werklikheid te maak.
Saskia’s Place, wat ’n wye versameling huisves, is ontwerp om alle ouderdomme te kan bedien.
“Vir die jeug is dit ’n speelgrond van verbeelding en nostalgie, asook ’n plek waar hulle kan gaan om te leer,” voeg Moore by.




