Davino Arendorff (19), ’n boorling van Robertson, het in April ’n sokkertoernooi en opleidingsessies in Madrid, Spanje, bygewoon.

Hy droom al sedert graad 11, toe sy belangstelling in sokker ontstaan het, om eendag oorsee te gaan speel. Hy was ’n leerder aan die Hoërskool Robertson.

Davino het die afgelope drie jaar hard aan sy sokker-vaardighede gewerk en het verlede jaar die BT Football-sokkerspan na Spanje gehaal.

Hulle het in April vier wedstryde op die toer gespeel teen klubs van Madrid, waaronder CF Pozuelo, Alcorcon, Fuenlabrada en CD Leganes.

Davino sê dit was vir hom ’n groot eer om teen sulke professionele spanne te speel en hulle het geensins teruggestaan vir hulle teenstanders nie.

“Die vlak van sokker is baie hoog en ons almal kon baie baie gedurende hierdie toer by die Spaanse klubs leer. Dit was vir seker die begin van groot dinge. Jou droom kan ’n realiteit word, maar dit verg sweet, vasberadenheid en harde werk om dit te bereik,” het Davino gesê.

Die span van BT Footbal het ook die voorreg gehad om die Santiago Bernabeu-stadion van Real Madrid te besoek.

“Dit was iets onbeskryfliks!”

Sy ouers sê Davino het ontsettend baie hard gewerk en verdien hierdie geleentheid wat hy gekry het om in Spanje te kan gaan toer. “Sy positiewe ingesteldheid en goeie prestasie op en weg van die veld is die rede vir sy sukses. Ons is trots op hom en sal hom ten volle ondersteun. Alle eer aan ons Hemelse Vader.”

Davino se plan is om weer Spanje toe te gaan.

“Ek gaan definitief weer. Alles is nou nog in die proses. Ek is vir die Here dankbaar dat Hy dit moontlik gemaak het. Ek het van die begin af geglo ek sal oorsee gaan sokker speel en het my nie deur ander wat gedink het dit is onmoontlik, van stryk laat bring nie. Ek wil diegene opreg bedank wat ’n skenking gemaak het en ook dié wat my van die begin af ondersteun het. Dit het baie gehelp.”

Hy werk tans as ’n assistent-onderwyser by die Laerskool Vergesig in Robertson.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article