Emrique Liedeman maak skoon agter ’n losskrum teen die Blou Bulle. Foto: Dawid Rossouw


Emrique Liedeman, van Wesbank in Malmesbury, het Saterdag (9 Julie) op die Tinkie Heyns-veld by Rondebosch Boys’ High in Kaapstad in sy derde wedstryd van die Cravenweek vir o.18-spanne die oog gevang met uitstekende skrumskakelspel agter die DHL- Westelike Provinsie (WP) se pak.

Hy het op sy beurt seker gemaak dat oorgenoeg balbesit vir die blitsige WP agterlyn beskikbaar is en die Blou Bulle hoofbrekens besorg het. Die twee skakelmaats het die wedstryd dikteer en hul teenstanders aan die raai gehou wanneer hulle op die aanval gegaan het.

Emrique is die kleinseun van die oud-Boland- en Protea-senter/vleuel Japie Liedeman, wat in die 80’s genadeloos onder sy teenstanders ingeklim en hulle soms stil laat staan het wanneer hy op die aanval was.

Emrique se flink diens en kalmte agter die DHL-WP-agttal was iets om te aanskou. Sy lang en suiwer aangeë aan Thurlon Williams het nie net die Blou Bulle op die agtervoet gehou nie, maar ook sy span tot menige aanval gelei. Sy goeie vertonings het hom ’n plek in die SA Skole A-span besorg. Een van sy vlymskerp wegbreke om die skrum en ’n solo-lopie het amper op ’n drie uitgeloop, maar hy is millimeters voor die Blou Bulle se doellyn gestuit en grond toe gebring.

Sy opponent Steven Nel, wat voor dié wedstryd uitstaande spel gelewer het, het opdraand gehad en Emrique was net ’n kleinkoppie voor Nel.

Emrique het die wedstryd op ’n hoë noot afgesluit en DHL-WP gehelp om die Blou Bulle 29-21 te verslaan en die toernooi onoorwonne afgesluit.

Liedeman se rugbybloed vloei diep in sy familie se are – sy ander kleinseun, Tyreeq Liedeman, Emrique se ouer broer, is onlangs in Boland se o.20-span, wat in SA Rugby se o.20-skildkompetisie in die eerste afdeling van die Curriebeker speel, opgeneem.

Emrique se goeie vertonings in die toernooi het die SA skolekeurders oortuig om hom in die SA Skole A-span in te sluit. Hy kry Saterdag 16 Julie ’n tweede geleentheid teen Nel, wat in die SA skolespan diens sal doen vir ’n plek in die SA skolespan wanneer dié twee spanne mekaar om 12:00 op die Hamilton-rugbyveld pak.

’n Belowende toekoms wag op hierdie jong skrumskakel van Hoërskool Paarl Gimnasium en dit sal nie ’n verrassing wees as ander unies na sy dienste vry nie noudat hy sy matriekjaar in November afsluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article